Is jy uitstedig op stemdag? Maak so om te stem.

Stemdag is om die draai. Op 29 Mei 2024 gaan Suid-Afrikaners stembus toe. Vir die meeste van ons is dit ’n openbare vakansiedag so ons kan ons stemlokaal besoek en ons stem uitbring. Maar hoe nou gemaak met die mense wat nie 29 Mei by die huis gaan wees nie?

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die volgende riglyne daar gestel vir diegene wat weg is vanaf hul huise op stemdag en nog steeds wil gaan stem.

Die proses werk soos volg: Elke kieser wat wil stem op stemdag, maar nie by sy/haar normale stemlokaal gaan wees nie, moet die OVK teen Vrydag 17 Mei 2024 volgens Artikel 24A van die kieswet in kennis stel van sy/haar voorneme om by ’n ander stemlokaal te gaan stem.

Jy kan dit doen via die OVK webwerf www.elections.org.za of jy kan jou plaaslike OVK-kantoor besoek en die vorm daar voltooi. Let net op dat jy moet presies kan sê by watter stemlokaal jy gaan stem. Jy kan nie net sê ek wil in bv. Kimberley gaan stem nie.

Jy moet die naaste stemlokaal waar jy gaan wees op jou aansoek invul. Versuim om dit te doen, beteken dat jou aansoek van die hand gewys gaan word. Om die naaste stemlokaal te bepaal, gaan na: https://maps.elections.org.za/vsfinder/ om die naaste stemlokaal te kry waar jy die 29ste Mei gaan wees.

Jy kan in enige provinsie gaan stem as jy nie 29 Mei by die huis gaan wees nie. Indien jy buite jou provinsie stem, kan jy net op die nasional stembrief stem. Indien jy in jou provinsie gaan wees, maar in ’n ander dorp en jy het jou Artikel 24A kennisgewing ingedien, gaan jy al drie stembriewe kry.

Indien jy by die huis gaan wees en jy wil by ’n ander stemlokaal gaan stem as waar jy geregistreer is, moet jy ook ’n Artikel 24A kennisgewing voltooi en aan die OVK besorg teen 17 Mei 2024. (Deur Heinrich Bosman)