Afpersslenter vang vele

Daar is verskeie gevalle in en om Oudtshoorn waar persone die dienste van prostitute gebruik, maar dan moet opdok vir meer as net die een besoek.

Dit blyk dat hierdie dames en hul besigheidsvennote na dienste gelewer, die persoon opsoek en dreig om hul familie in kennis te stel van die besoek tensy hul weer betaal word. En dan begin die kringloop van afpersing en betalings wat nie einde kry nie.

Die Hoorn het te hore gekom van hierdie slenter, waar besoekers aan Oudtshoorn in ’n plaaslike gastehuis gebly het, en die gaste twee dames opgetel het.

Die volgende dag is hul terug na hul stad waarvandaan hulle gekom het en die dames met hul “pimps” later by die gastehuis opgedaag en die eienaars vertel dat hul nie vir dienste gelewer betaal is nie. Die gastehuiseienaars het toe betaal om van die ongewensde gaste ontslae te raak. Die volgende dag was hulle egter weer terug en het aangedring op meer geld.

“Dit was vreesaanjaend, want hier was 8 persone buite my huis wat aangedring het op geld, en dit terwyl ons ander gaste gehad het wat ook hier bly. Dit reflekteer sleg op my besigheid,” vertel die eienaar wat anoniem wil bly.

Een van die dames het voorgegee sy is onder die ouderdom van 18 en gesê sy gaan ’n saak van verkragting by die polisie lê as sy nie nog geld ontvang nie.

Met hul 3de besoek aan die gastehuis het Die Hoorn ook na die gastehuis gegaan om presies agter die kap van die byl te kom.

Die betrokke dame was beslis nie onder ouderdom nie, maar wel in haar twintigs.

Hierdie voorval het egter daartoe gelei dat Die Hoorn verder ondersoek instel, en dit blyk dat afgesien van die dreigemente om die verbruikers se geliefdes in kennis te stel, die ander taktiek wat ingespan word behels om kliente te dreig met verkragtingsake.

Die dames beweer dat hulle onder ouderdom is, en dan betaal die kliënte maar eerder as om die kans te vat dat daar wel ’n saak gemaak sal word.

Persone en informante met wie Die Hoorn gesels het wou anoniem bly, maar sommige van die slagoffers het al meer as R20 000 aan van hierdie persone oorhandig.

Daar is ’n magdom voorvalle waarvan Die Hoorn weet, maar geen daarvan is aan die polisie gerapporteer nie.

Dit skep die probleem dat die polisie nie kan optree teen die skuldiges nie.

“Hulle hou die mense dop, skryf motors se registrasienommers neer, volg hulle of vind uit waar die betrokke persone werk,” vertel een van die informante aan Die Hoorn.

Daarna daag hulle gereeld op by die persoon se huis of werk en pers die persone af om te betaal.

“Die grootste fout wat die persoon dan maak is om te betaal, want dan hou hulle nie op nie.”

In Oudtshoorn se middedorp is daar sowat 10 prostitute wat hier werk.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid- Kaap Polisiediens (SAPD) hou sulke voorvalle verband met afpersing. “Voorvalle van afpersing kom nie baie in Oudtshoorn en die omgewing voor nie, alhoewel daar in die verlede in George al voorvalle aangemeld is,” sê hy.

Spies sê verder dat persone wat vir afpersing aangekeer word, aangekla kan word en sou hul skuldig bevind word, kan gevangenisstraf opgelê word.

“Verslae dui daarop dat ondersoeke na die voorvalle van afpersing dikwels beperk word deur die onwilligheid van slagoffers om afpersingsvoorvalle by die polisie aan te meld,” vertel hy.

Volgens Oudtshoorn se eie Ordonnansies op bladsy 10, hoofstuk 5, punt 34(i) is dit onwettig vir persone om enige persoon vir die doel van prostitusie of onsedelikheid te werf of daartoe aanspoor/aanmoedig/aanpor.

Dit blyk dat die enigste manier om hierdie slenter hok te slaan sal wees om dit te rapporteer by jou naaste polisiestasie en ’n saak oop te maak.

Ongelukkig is daar soveel nadelige gevolge vir die persoon en sy geliefdes wat afgepers word dat hul eerder sal aanhou betaal, en so herhaal hierdie bose kringloop homself.

Dit blyk egter dat hierdie modus operandi reeds jare aankom. Op 6 Februarie 2003 het Die Hoorn berig “Sonde met prostitute” dat ’n bejaarde paartjie wat in Oostelikeweg gebly het, aangeval is deur vyf mans en vrouens, wat beweer het die eienaar van die huis het hulle geld geskuld vir dienste gelewer.

Hulle het die paartjie gedreig met gebreekte bierbottels, terwyl hulle die eiendom gevandaliseer het. Drie is deur die polisie in hegtenis geneem.

Dit blyk uit hierdie artikel dat daar nie veel die afgelope 20 jaar verander het met die manier waarop hierdie persone werk nie. Daar is egter deesdae ’n groot toename in swendelary, waar persone op sosiale mediaplatforms betaal vir items en dit nooit ontvang nie, of dit nooit die persoon wat dit adverteer se eiendom was nie.

Enige persone wat al ’n slagoffer van hierdie slenter was kan ’n klag van bedrog by die Oudtshoorn Polisie gaan lê, waarna dit ondersoek sal word. (Deur Angelique Erasmus)