25 Jaar se stories

Elke foto vertel 'n storie. Hier is net 'n handvol hoogtepunte wat Die Hoorn oor 25 jaar saam met die gemeenskap beleef en vasgevang het.

Die Hoorn vier die week hul 25ste verjaarsdag. In die afgelope 25 jaar was Die Hoorn daar saam met lesers in tye van vreugde, sportoorwinnings, prestasies, feeste en suksesse.

Saam met die goeie kom ongelukkig ook die hartseer wanneer berig gedoen is oor geliefdes wat afgesterf het, ernstige ongelukke, betogings en onluste. Daar is berig tydens vuurwarm brande, vloede en vernietigende weersomstandighede.

Vir 25 jaar pen die koerant die stories, mense en hartklop van die Klein Karoo vas. Wat in 2001 as ’n dapper droom begin het, het gegroei tot ’n gevestigde gemeenskapsplatform waar plaaslike nuus, sport, skole, kerke, sakeondernemings en gewone mense se buitengewone stories ’n tuiste gekry het.

Een van die grootste hoogtepunte oor die afgelope 25 jaar was die manier waarop die koerant ’n ware gemeenskapsstem geword het – ’n plek waar mense hul sê kon sê, waar plaaslike helde erken is, en waar nuus nie net berig is nie, maar geleef is.

Die oorgang na digitale platforms en sosiale media was ook ’n belangrike mylpaal wat Die Hoorn gehelp het om by ’n nuwe geslag lesers aan te pas sonder om sy plaaslike karakter te verloor.

Maar die pad was nie altyd maklik nie. Soos baie gedrukte media het Die Hoorn deur moeilike ekonomiese tye beweeg – tye wanneer besighede noodgedwonge die gordels stywer moes trek en advertensiekoste inperk in resessies.

Daar was ook die voortdurende uitdaging om relevant te bly in ’n vinnig veranderende mediabedryf waar sosiale mediaplatvorms ’n groot impak op daaglikse nuus het. Die COVID-19-pandemie was sonder twyfel ook een van die uitdagende tye – ’n tyd van onsekerheid, finansiële druk en moeilike besluite.

Tog het dit ook die veerkragtigheid van die span en die lojaliteit van lesers en adverteerders duidelik gewys.

Deur alles heen het een ding konstant gebly: ’n verbintenis tot eerlike, plaaslike joernalistiek en ’n liefde vir die gemeenskap wat bedien word.

Terwyl Die Hoorn vorentoe kyk na die volgende jare wat voorlê, is die fokus steeds dieselfde – om relevante, betroubare nuus te verskaf en naby aan ons gemeenskap te bly.

Daar is ook verskeie opwindende nuwe projekte, ’n “facelift” vir die koerant asook samewerking met ’n nuwe era van smaakmakers waaroor ons baie opgewonde is!

Hierdie verjaarsdag is nie net ’n viering van ’n koerant nie, maar ook ’n bewys dat daar vir nog baie jare vorentoe plek vir gedrukte media, relevante nuus en die vertel van stories voorlê – veral aangesien die koe-rant reeds vir meer as ’n jaar gratis beskikbaar is vir ons lesers.

Ons opregte dank aan elke leser, adverteerder en bydraer wat deel was van die reis. Ons is oorweldig deur al die gelukwense wat ingestroom het, asook elke voormalige werknemer wat hul storie met ons gedeel het.

Die Hoorn se storie is julle storie – en ons sien uit daarna om julle stories vir nog vele jare te vertel. (ANGELIQUE ERASMUS)