Met vlak 2-waterbeperkings wat vanaf Maandag in werking tree, het talle Oudtshoorniete vrae aan Die Hoorn gestuur oor die Blossoms-waterprojek. Die Hoorn het ’n navraag aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gerig en die volgende mediaverklaring ontvang vanaf Christo Vermaak, woordvoerder van Oudtshoorn Burgemeester, Johan Allers.
“Die Blossoms-projek, verskaf nie net water aan Oudtshoorn nie, maar ook aan omliggende dorpe soos De Rust, Dysselsdorp en Volmoed, asook die KKLWVS (Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema).
Die projek is in 2022 voltooi met die verwagting dat dit sowat 46, 9 l water per sekonde sou lewer. Gegewe die watervlak lewer dit tans sowat 20,9 l per sekonde (lesing op Maandag 26 Januarie),” lui die verklaring. Die verklaring sluit af dat weens die swak lewering bereik die water slegs laerliggende gedeeltes van die landelike gebied.
Water moet dus aangery word na dele soos die Kliplokasie, Volmoed, Dysselsdorp en De Rust, aangesien dit te hoog geleë is.
Oudtshoorn gebruik tans sowat 19,1 megaliter water per dag (1 mega liter is gelykstaande aan 1 miljoen liter water). Met die bogenoemde in gedagte gee die Blossomsprojek tans 1,80 Ml per dag. Dit is slegs sowat 9,42% van Oudtshoorn se huidige water benodighede.
Die Hoorn het in 2020 berig dat die Blossoms-projek ontwikkel word as ’n noodpyplyn om te help in tye van droogte.
Die Blossoms-projek is al in die vroeë 2000’s deur die Munisiplaiteit geïnisieer, maar in 2018 is dit as noodwaterpojek as gevolg van die droogte afgeskop en eksplorasie begin.
VLAK 2 WATERBEPERKINGS – hier is wat jy moet weet!
- Privaat motorwas word slegs met ’n emmer toegelaat; die gebruik van tuinslange is verbode.
- Kommersiële motorwasserye moet ’n aansoek indien om voort te gaan met bedrywighede. Die aansoek moet duidelik aandui watter waterbe-
sparingsmaatreëls toegepas word, soos water
hergebruik, herwinningsisteme of ander bewa-
ringinisiatiewe. - Fonteine en spuitfonteine mag nie aangevul word nie.
- Die besproeiing van alle sportvelde is verbode.
• Besproeiing van privaat tuine word slegs op Maandae en Donderdae tussen 06:00–09:00 en 18:00–21:00 toegelaat. - Die skoonmaak van dakke mag slegs plaasvind met voorafgaande toestemming, na indiening van ’n waterbesparingsplan en voorgestelde werksmetodiek.
Die munisipaliteit versoek inwoners dringend om hul daaglikse waterverbruik tot minder as 100 liter per persoon per dag te beperk, ten einde die totale munisipale waterverbruik tot onder 13,5 megaliter per dag te verminder.
Dysselsdorp, De Rust, Blomnek en alle landelike gebiede is steeds op Vlak-6 waterbeperkings
Die watervlak van die Raubenheimerdam staan tans op 64,53%, terwyl die daaglikse waterverbruik steeds in die omgewing van 20 megaliter per dag bly. Vlak 2 waterbeperings word dus as voorsorgmaatreël instel. (ANGELIQUE ERASMUS)
