Hoërskool Môrester se splinternuwe wetenskaplaboratorium is Dinsdag, 8 Oktober by die skool geopen.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), in samewerking met die onafhanklike entiteite, Advancing Knowledge en The Archways Garden Cities, het hierdie splinternuwe laboratorium aan Môrester geskenk.
Mnr Stevens, wetenskaponderwyser by Hoërskool Môrester, het gesê dat dit vir hulle ’n groot voorreg is om hierdie ongelooflike vooruitgang in hul skool se wetenskaplike rigtings te kon ontvang. In 2002 het The Archways ook ’n skoolsaal vir Môrester gebou.
“Die vraag is waarom doen ons dit? Die antwoord is dat dit die enigste manier is hoe ons die omstandighede in die land gaan verander, en dit is deur opvoeding en onderwys”, het John Matthews, die hoof- uitvoerende beampte van The Archways, gesê. Prof. Shahied Hartley, van Advancing Knowledge, het gesê dat dit vir hulle ’n geweldige goedvoel-geleentheid is. “Dit is goed om te weet dat die vooruitgang van die wetenskappe verseker word en dat die wetenskap-kultuur bevorder word”. (Lindi Brill)

Bo: Die opening van die gedenkplaat van links is: Herbert Daniels (WKOD kringbestuurder), prof. Shahied Hartley, John Matthews en mnr Jaco Stevens.
