Suid-Afrika bied stabiele omgewing vir Saadproduksie

Onder: Sowat 300 gaste is verlede Woensdagoggend tydens die Klein Karoo Saad erkenningsgeleentheid, heerlik bederf met ’n ontbyt by Surval Boutique Olive Estate, buite Oudtshoorn. Onder: David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saad. Foto’s Ilse Jordan

Klein Karoo Saad se jaarlikse erkenningsgeleentheid van 2 Oktober was vanjaar weereens ’n hoogtepunt op die kalender. Die geleentheid het begin met ‘n plaasontbyt waartydens die onderskeie wenners in saadproduksie vereer is. Sowat 300 produsente met gades het die oggend by Surval Boutique Olive Estate bygewoon.

Tydens sy toespraak het David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saad, op meer positiewe aspekte vir saadproduksie gefokus. Hy het gesê alhoewel tendense nie noodwendig vir almal positief is nie, is die impak daarvan ten gunste van die maatskappy, die produsente en die land.

Sprekende voorbeeld hiervan was dat ten spyte van die droogte, produsente met groot ywer steeds suksesvol kon saad produseer te midde van baie moeilike omstandighede. Sommige jare was wel swaarder as ander, sê hy, maar internasionaal is die persepsie gevestig dat Suid-Afrika meer stabiel as ander lande is. Verskeie lande soos Amerika, Chillie en Frankryk het meer natuurrampe soos vloede en hittegolwe ervaar.

“Die beskikbaarheid van goeie arbeid het ook ’n impak op ’n stabiele saadproduksie omgewing wanneer dit kom by saadproduksie. Alhoewel loonverhogings ook ’n faktor is, is ons arbeid steeds meer bekostigbaar in vergelyking met die res van die wêreld.
Ons kompeteer nie net met ander maatskappye in Suid-Afrika nie, maar ons kompeteer ook met ander plekke in die wêreld, wat ook saad produseer en bogenoemde faktore skep die geleenthede vir ons om kompeterend saad te produseer in Suid-Afrika.”

Malan het ook verwys na die positiewe invloed van die afwesigheid van beurtkrag die afgelope aantal maande. Hy wys ook daarop dat alhoewel daar moontlike verhogings in elektrisiteitskoste is, is die koste van elektrisiteit in Suid-Afrika vergelykbaar met ander lande. ‘n Verdere positiewe element is dat oliepryse wêreldwyd besig is om af te kom. Dieselfde geld vir kunsmis en chemikalieë wat ook oor die laaste paar jare goedkoper geword het.

“Klein Karoo Saad Produksie en ons produsente is tans verantwoordelik vir 44% van alle saadproduksies wat uitgevoer word uit Suid-Afrika,” het Malan gesê. Hy sê dat saadproduksie in Suid-Afrika in 2023 verdubbel het teenoor die vorige jaar. Dit is as gevolg van meer saadkontrakte en beter opbrengste met goeie kwaliteit behaal deur produsente Die siening dat Suid-Afrika ‘n meer stabiele produksie omgewing bied, skep nuwe geleenthede.

Malan het in sy toespraak na die geskiedenis van die maatskappy verwys. Die Klein Karoo Koöperasie het op 22 April 1945 ontstaan. Die hoofprodukte was bone, erte, heuning, lusernsaad en beenmeel. Volstruise het eers jare daarna bygekom. Die maatskappy was effektief eerste ’n saadmaatskappy gewees. Professionele saadproduksie het in 1980 begin en volgende jaar sal Klein Karoo 80 jaar oud wees en proffesionele groetesaad produksie 45 jaar. “Dan gaan ons groot makietie hou,” skerts Malan.

Die maatskappy se resultate toon alreeds vir die laaste 15 jaar ‘n opwaartse groei kurwe en vanjaar het omset met meer as 24% toegeneem teenoor 2023. Daarmee saam het wins ook met 30% toegeneem Malan sê dat dit oorwegend ‘n goeie produksiejaar was wat in meeste produkte maar in veral uie, goeie kwaliteit gelewer het. “Ons is baie dankbaar dat die besigheid so goed kon vaar,” sê Malan.
Ons is veral trots daarop dat aankope vanaf Produsente die afgelope jaar met meer as 33% toegeneem het. Die belangrikheid van groentesaad as bron van inkomste op voetsool vlak, kan nie misken word nie.

Danksy Covid kon ons die pryse dollar/euro terme betekenisvol verhoog, en ook as gevolg van uitstekende kwaliteit en opbrengste wat ons produsente gelewer het, het dit moontlik gemaak om maksimum voordeel deur te gee aan ons produsente. Natuurlik het wisselkoers bygedra tot die groei en ons het die produsente ook deel gemaak hiervan . Ons werk altyd tot voordeel van die produsent en ook ons aandeelhouers.”

Malan het gesê dat daar vanjaar weer aanvullende betalings aan produsente gemaak kon word en die aanvullende betaling is vir 13 maande in ag geneem en nie 12 maande soos voorheen nie. Daar sal vanjaar ‘n rekord bedrag van R55 miljoen aan 203 produsente uitbetaal word in vergelyking met 177 produsente in 2023. Malan sê hulle is geweldig trots dat vanjaar se aanvullende uitbetaling die hoogste ooit is. Dit verteenwoordig ’n 13,2% verhoging op saadprys van die afgelope seisoen.

Alhoewel die hoeveelhede kunsmis verkope in vergelyking met verlede jaar ongeveer dieselfde volume is, is daar ’n afname in die prys en daarom was die omset van die verkope laer as die vorige jaar.

“Ons is baie opgewonde oor die weidingsaad. Daar is nuwe kultivars wat van die buiteland af ingebring is, en dit gaan tans in die bemarkingsikulus in. Agrofors het ’n weidingsaad maatskappy, Seednet, in die noorde van die land bekom, wat baie gaan bydra tot die verwagte groei van Agrofors.

Malan het ook sy dank teenoor elke produsent uitgespreek vir hul ondersteuning en bydrae tot die sukses van die maatskappy. Hy het ook elke werknemer wat onbaatsugtig tot die maatskappy se sukses bydra, bedank.

Na afloop van die oggend program is daar met groot oorgawe deelgeneem aan die Klein Karoo Rally. In totaal het 85 spanne deelgeneem, wat 25 vrae op verskeie punte moes beantwoord. Elke deelnemer het ’n mooi sakkie vanaf KKSP ontvang waarin daar heerlike versnaperinge vir die pad ingepak was. Deelnemers is na punte tussen Oudtshoorn, Schoemanshoek, Spitzkop, Oude Muragie, De Rust en weer terug na Oudtshoorn geneem. Taxi-busse in samewerking met die plaaslike Taxi Industrie, is ingespan om produsente te vervoer.

By De Rustica is daar ’n olyfolie proe aangebied waar die verskil tussen goedkoop en suiwer olyfolie verduidelik is. Twee van die vrae was ook op die proe gebaseer. Daar het deelnemers ’n wyle vertoef en aan worsbroodjies gesmul terwyl hul oor die olyfboorde kon uitkyk. Vanaf De Rustica is die bussies na Domein Doornkraal Padstal vir die volgende vrae. Hier moes deelnemers ’n rooi en witwyn identifiseer, terwyl Tino

Singe vermaak verskaf het. Tuisgebakte wortelkoek is ook hier as nagereg geëet. Vanjaar was daar weer groot pryse op die spel vir die wenners van die Rally.

Klein Karoo Saad het vanjaar weer hul gewilde sokkies met nuwe groentemotiewe bekendgestel. Tydens verlede jaar se saad safari was hierdie sokkies vir die eerste keer uitgedeel. Vanjaar is dit weer met groot afwagting en opwinding ontvang. Daar was ook ’n foto kompetisie waar deelnemers op kreatiewe wyse verlede jaar se sokkiesreeks ten toon moes stel. Die Hoorn dra ook met groot trots hul unieke en oulike groente sokkies.

Die bekende musikant, Ray Dylan, het die aand tydens ’n heerlike funksie 400 gaste vermaak. Die reuk van lamsvleis, wat stadig op die spit braai, en verskeie trefferliedjies het ’n feestelike atmosfeer geskep, en die dansvloer is behoorlik tot laataand benut.


Meer oor die gasspreker:
Professor Eugene Cloete, Hoof van die Kaapse Hoër-onderwys konsortium, het vanjaar as gasspreker opgetree by die geleentheid. Cloete se tema vir die oggend was “Achieving the extraordinary with ordinary people”. Hy het op ’n humoristriese wyse die onderwerp aangepak en die groep met sy boodskap bemoedig.

Hy beskryf die woord TEAM soos volg: Today Everyone Achieves More.
“Jou gesindheid moet ’n positiewe ingesteldheid wees, elke dag,” As jy die regte houding het kan jy positiewe verwagtinge skep van jouself en mense rondom jou, en dit is ongelooflik belangrik,” sê hy.

Volgens Cloete is ’n positiewe ingesteldheid een van die belangrikste vaardighede in die wêreld.

Almal was dit eens dat sy praatjie die oggend nie net inspirerend was nie, maar ook baie met ’n meer positiewe uitkyk gelaat het.

Vanjaar se Klein Karoo Saadproduksie pryswenners:

F -1 GEEL UIE (Klein Produksie):
Naaswenner: Riaan Fourie Boerdery (Pty) Ltd, Riaan Fourie van Fraserburg.
Wenner: Charles Moore Family Trust, Charles Moore van Willowmore.
F-1 GEEL UIE (Groot Produksie):
Naaswenner: AJ Bothma, Attie Bothma van Mer-weville.
Wenner: CJ Freysen, Callie Freysen van Laingsburg.
OP GEEL UIE (Klein Produksie):
Naaswenner: JA Louw (Karoo Dieseldienste), Adriaan Louw van Williston.
Wenner: JSK Moelich, Joos Moelich van Williston.
OP GEEL UIE: (Groot Produksie):
Naaswenner: Avondrust Boedery BK, Jurie Klue van Klaarstroom.
Wenner: Riveresco Developments (Pty) Ltd, Stefaan Schoeman van Prins Albert.
F1 WIT UIE:
Naaswenner: Rondekop Plase Trust, Winston Leftley van Laingsburg.
Wenner: Tankwa Agri (Pty) Ltd, Francois van der Merwe van die Tankwa.
OP WIT UIE:
Naaswenner: Groote Schuur Motors (Pty) Ltd, Blackie Swart van Touwsrivier.
Wenner: Drafstap Boerdery, Willie Luttig van Upington
F-1 ROOI UIE:
Naaswenner: Theunissen Trust, Leon Theunissen van Ceres Karoo
Wenner: Keith Kroon Trust (Pty) Ltd, Eugene van der Bank van Willowmore.
OP ROOI UIE: (Klein Produksie)
Naaswenner: JVE Boerdery, Hannes Esterhuyse van Williston & De Bos Agri (Edms) Bpk, Braam Taljaard van Tankwa.
Wenner: Omega Boerdery Trust, Steffan Coetzee van Tankwa.
OP ROOI UIE: (Groot Produksie)
Naaswenner: Mahoebe Eiendomme (Edms) Bpk, Henry Coetzee van Prieska.
Wenner: Jopetku Boerdery (Pty) Ltd, Kurt Loots van Prieska.
OP LENTEUIE:
Wenner: Kandelaarsrivier Boedery (Pty) Ltd, Morné Schoeman van Oudtshoorn.
F-1 LENTEUIE:
Naaswenner: Arbeidslus Boerdery (Pty) Ltd, Christoffel Spies van Schoemanshoek & Hekkie Bank Boerdery, Hennie Schoeman van Schoemanshoek.
Wenner: John Schoeman van Schoemanshoek
F-1 WORTELS: (Klein Produksie)
Naaswenner: Coetzee Laubscher (Coetzee Laubscher van Saffraanrivier, Oudtshoorn.
Wenner: Avondrust Boerdery BK, Jurie Klue van Klaarstroom
F-1 WORTELS: (Groot Produksie)
Naaswenner: PJ Terblanche & Seuns BK, Schoeman Laubscher van Middelplaas, De Rust.
Wenner: Avondrust Boerdery BK, Jurie Klue van Klaarstroom.
OP WORTELS:
Naaswenner: Morne van Rooyen BK, Morné van Rooyen is van die Kammanassie.
Wenner: JH Schoeman, Boeta Schoeman van Schoemanshoek.
NEW BUNCHING:
Wenner: LJ Jonck, Louis Jonck van Oudtshoorn.
SLAAI:
Wenner: Sonja Agri Pty Ltd (Pierre Rabie van Nuy Vallei is afwesig en Riaan Lambrechts ontvang die toekenning namens hom).
NUWE TOETREDER VAN DIE JAAR:
Omega Boerdery Trust, Steffan Coetzee van Tankwa.
VROU IN LANDBOU:
Nadia Viljoen, Nadia Viljoen van die Tankwa Vir onbaatsugtige bydrae gelewer tot Landbou, maar veral ook tot ons maatskappy, Klein Karoo Saadproduksie.
SOKKIE KOMPETISIE WENNERS: Elsabé Visagie 2. CP van der Merwe 3. Riaan Fourie.
KALENDER FOTOKOMPETISIE: 1. Celia Brown (12 jaar) 2. Arno van der Merwe 3. Yvonne Rabie
Foto’s: Ilse Jordan

Vanjaar se wenners:

    Vanjaar se naaswenners:

    Nuwe Toetreder van die jaar.

    Vrou in Landbou

    Gaste is vroegoggend bedef met warmsjokolade en malvalekkers met aankoms.

    By De Rustica moes deelnemers vrae beantwoord na ’n Olyfolie-proe.

    By Domein Doornkraal moes twee wyne ge-ïdentifiseer word as deel van die vrae.

    Bussies is ingespan om die spanne na die verskeie vraepunte te neem.

    Personeel van Klein Karoo Saad spog met vanjaar se nuwe groente sokkie motiewe.

    Die dag is met ’n gesellige kuieraand afgesluit op Surval Boutique Olive Estate se grasperk.

    Ray Dylan en Tino Singe vermaak die gaste saam op die verhoog.

    Die reuk van ’n lam op die spit het bygedra tot die feestelike atmosfeer.