Hoe-hoe om te maak met uile

Twee gevlekte ooruil-kuikens wat uit hul nes geval het. Foto verskaf

Daar is sowat elf uilspesies in Suid-Afrika, waarvan ongeveer die helfte in die Klein Karoo voorkom. Van die bekende spesies is die gevlekte ooruil en nonnetjiesuil, om maar net twee te noem.

Die gevlekte ooruil is besonder aanpasbaar en word dikwels naby huise en oop velde gesien, en kan selfs in die dorp aangetref word.

Twee gevlekte ooruil-kuikens is verlede week uit hul nes aangetref. Volgens inligting word kuikens gereeld in die omgewing aangetref. Om hul veiligheid te verseker, word die ligging nie bekend gemaak nie.
Die kuikens is intussen na ’n veilige plek geneem waar hulle grootgemaak sal word voordat hulle weer vrygelaat word.

Hoe gemaak as ’n uil beseer is of ’n kuiken uit sy nes val?
Hou troeteldiere weg om te voorkom dat die uil verder beseer word, en om die troeteldier self te beskerm. Uile is roofvoëls met skerp kloue en snawels.

Bly op ’n afstand, maar hou die uil dop totdat hulp opdaag. Moenie die uil of kuikens optel of hanteer nie.
Volgens Therese van der Westhuizen van CapeNature kan uilkuikens tot twee weke of langer nadat hulle uit die nes geval het steeds deur hul ouers versorg word, mits daar geen menslike inmenging is nie. CapeNature ontvang en verwyder gereeld beseerde uile.

In Suid-Afrika is dit onwettig om uile dood te maak, en oortreders kan ’n heftige boete of selfs tronkstraf in die gesig staar.

Vir enige hulp met uile, kontak CapeNature, Theresa van der Westhuizen 082 771 9107 of Carmen Gagiano 082 829 8678. (ANGELIQUE ERASMUS)