Herdenking van “Saartjie” Goldblatt by Arbeidsgenot

Christo Smit (links) en Carl Coetzer van die Arbeidsgenotkomitee plaas ’n ruiker by die gedenksteen van Sarah Goldblatt. Foto: Hannes Visser

Die Arbeidsgenotkomitee het verlede Donderdag, 22 Mei, die 50ste sterfjaar van Sarah Goldblatt by Arbeidsgenot herdenk. Sarah (Saartjie) Goldblatt was CJ Langenhoven se redakteur en biograaf asook sy vertroueling.

Die skrywer, historikus en dosent, Daniël Lötter, het in ’n huldeblyk aan haar op die Facebookblad van Arbeidsgenot geskryf dat ’n groot deel van Langenhoven se werk vandag waarskynlik nie meer sou bestaan het as dit nie vir Goldblatt was nie.

“Dit was sy wat hom aangespoor en gemotiveer het wanneer hy onder aanvegtinge wou moed opgee. Dit was sy wat opgeteken en bewaar en geredigeer en gepubliseer en byeengebring het.”

Sy het Langenhoven ontmoet toe sy destyds aangestel is as sy assistent by Het Zuid-Western waarvan Langenhoven redakteur was. (Dié koerant word later deel van die Oudtshoorn Courant.)

Lötter skryf: “Saartjie se toewyding aan die bewaring van Langenhoven se nalatenskap is welbekend. Die hoogtepunt daarvan sou waarskynlik wees haar ongelooflike ywer na Vroutjie se dood om Arbeidsgenot ongestoord te behou as plek van herdenking.

Dit verklaar dan ook haar begeerte om te rus naby die borsbeeld wat sy van Langenhoven laat maak het, in die gedenktuin van Arbeids-genot.”

Goldblatt het ook ’n reusebydrae gemaak met die landswye Langenhoven Eeufees in 1973. Dit was ook te danke aan haar dat Langenhoven se versamelde werke in 16 volumes gepubliseer is en dat elke skool in die land ’n stel ontvang het.

Lötter noem dat Goldblatt se digbundel, Liefdeskransies, bykans 16 jaar voor Elizabeth Eybers se eerste bloemlesing verskyn het. Goldblatt was nie net die kurator van Langenhoven se nalatenskap nie, maar het op verskeie ander terreine groot rolle gespeel. Sy was byvoorbeeld ’n stigterslid van die eerste Afrikaanse lewensverse-keringsmaatskappy wat vandag Sanlam is.

Besoek gerus die Facebookblad, Arbeidsgenot, om Lötter se interessante stuk geskiedenis oor Sarah Goldblatt te lees. – Volg gerus die blad om op hoogte te bly met Arbeidsgenot se gebeure. (HANNES VISSER)