
Oudtshoorn se gholfklub vier vanjaar hul 68ste bestaansjaar en daardie groen setperke het oor die jare bekende gholfskoene gesien.
Onder die vername besoekers wat die Oudtshoorn Gholfklub al besoek het, is twee voormalige eerste ministers, John Vorster en FW de Klerk, en top-gholfspelers soos Bobby Locke en Gary Player.
Dit is ’n plek waar daar vir amper sewe dekades tydens gholfdae sakebande en vriendskappe op gereelde basis gesmee word.
Die Oudtshoorn besigheidskamer se gewilde maandelikse gholfdag is een van hierdie geleenthede. Behalwe vir gholf, word die klub ook gereeld gebruik om verskeie funksies aan te bied.
Die gholfklub is beslis ’n baken vir Oudtshoorn wat mense vanuit alle gemeenskappe en van alle ouderdomme byme-kaarbring.
Die huidige gholfgronde is op 31 Mei 1957 in gebruik geneem. Die klub, wat al ouer as ’n eeu is, se vorige baan was teen die rantjie wes van die Oudtshoorn-hospitaal.
Die huidige bestuur is Paul Stoebel (president), Makka Swart (kaptein), Rudi Mortlock (onderkaptein), Jodi Milder (vroue-kaptein), Jean Neethling, Annelien Badenhorst en Hennie-Edna Janse van Rensburg. Marius Wilken is die klubbestuurder. Daar is tans so 130 lede.
Voor die dae van Fancourt en soortgelyke luukse gholf-ontwikkelings aan die Tuinroete, is Oudtshoorn se gholfbaan as die mooiste in die Suid-Kaap beskou. Die baan is vandag die enigste 18 putjie-gholfbaan in die Karoo.
Vorige presidente en klubkapteins wat lank diens gedoen het, is Carl Kleinschmidt (9 keer president) wat ook die eerste klubkampioen was, Quinton Mackenzie (6 keer president en 4 keer klubkaptein), Les Russell (5 keer president en 4 keer klubkaptein), André van Greuenen (12 keer president en 7 keer klubkaptein) en Godfrey Malgas (10 keer president).
Van Greunen was in 1992/93 ook president van die Suid-Kaap Gholfunie asook bestuurslid van die SA Gholf-assosiasie. Nog ’n oud-president, Niel Truter, was in 1989/90 ook president van die Suid-Kaap Gholfunie.
