Helde-ontvangs vir Oudtshoorn se Brian Daniels op pad na Kaapstad!

Ao Brian Daniels (in wit T-hemp) wat tans van Oudtshoorn na Kaapstad stap om geld in te samel vir die Rooikruis Kinderhospitaal in Kaapstad het ’n helde-ontvangs in Ladismith gehad waar meer as 1 000 geesdriftige mense hom verwelkom het. Lees meer op bladsy 3. Foto: Deon Meyer

DIE Oudtshoorniet ao Brian Daniels wat tans van Oudtshoorn tot Kaapstad stap om geld in te samel vir die Rooikruis Kinderhospitaal, stap vandag (Donderdag 22 September) van Robertson tot Worcester en hoop om Vrydag in die Paarl aan te kom!

Saterdag stap hy Belville toe, en Sondag beoog hy om die laaste sowat 20 km na die Rooikruis Kinderhospitaal toe stap.

Daniels het op 14 September op Oudtshoorn weggespring om hierdie afstand van byna 440 km aan te pak. Hy het reeds deur Calitzdorp, Ladismith, Barrydale, Montagu en Ashston gestap.
Om fondse in te samel, verkoop hy lootjies van R100 elk vir ’n gelukkige trekking wat op 25 September sal plaasvind. Elke prys wat te wen is, het ’n waarde van R500 of meer!

Die Hoorn het gister met Daniels gesels tydens ’n “rusdag” in Robertson. Hoewel hy nie die dag gestap het nie, sou hy drie skole in die omgewing besoek om leerders meer oor sy staptog te vertel.

Hy het tog baie vrolik oor die telefoon geklink, al het hy reeds om en by 270 km agter die rug.
“Van my kop tot by my enkels voel ek goed, maar my voete is gedaan! Hulle is seer, en ek kry blase.

Al maak dit dinge ’n bietjie moeilik is ek steeds baie positief vir die pad vorentoe!”

Hy sê hy ontvang baie aandag van die media.

Deon Meyer berig uit Ladismith dat Daniels verlede Donderdag (15 September), die dag nadat hy op Oudtshoorn weggespring het, ’n helde-ontvangs op Ladismith ontvang met meer as 1 000 opgewonde Ladismitters wat hom verwelkom het en gillend ingewag het!

“Ek was aangedaan. Dis asof ek meer woema gekry het vir die staptog,” het hy gesê nadat hy op Ladismith aangekom het.

Hy het ’n beroep op mense gedoen om hul harte en beursies oop te maak en kaartjies teen R100 elk te koop en so ’n bydrae tot die Rooikruis KInderhospitaal te lewer. Daar is groot pryse op die spel vir die kaartjiekopers.

Maandagaand het hy oorgeslaap op Ashton: “Die voete is baie, baie seer. Maar Kaptein Bettie en die span support my al die pad! Ek byt vas en sal uithou!”

Hy vertel hy was voorheen ’n vrywillige werker by die Rooikruis.

“Ek het gevra watter dringende behoefte hulle tans het. Hulle het ’n lys gegee en ek het gekies om R50 000 in te samel vir ’n terapeutiese speelarea vir die kinders.” (Deur Stefan Skapie Goosen)

• Om ’n kaartjie te koop of ’n bydrae te lewer: kontak Daniels se span by sel 060 523 4786.

Die Brian Collin Daniels NPC bankbesonderhede, wat spesifiek vir die Karoo to Coast for Children Walkathon bedoel is, soos volg:

Absa tjekrekening

Rekeningnommer – 4105412162

Takkode – 632005