Handskrifspesialis moet dalk getuig

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man van Mthatha wat van voertuigdiefstal aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof na die getuienis van die ondersoekbeampte in ’n verhoor binne ’n verhoor, tot Augustusmaand uitgestel.

Die 31-jarige Lulama Kolisi is in die vroeë oggendure van 8 Mei 2018 in Rademeyerstraat op Oudtshoorn in hegtenis geneem nadat ’n polisehond hom tussen die riete in die Grobbelaarsrivier vasgetrek het.

Dit het gevolg nadat hy in Jan van Riebeeckweg met ’n gesteelde bakkie teen ’n lamppaal gebots en glo weggehardloop het.

Hy voer volgens sy regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, aan dat dit nie sy handtekening is wat op ’n waarskuwings­verklaring verskyn nie, en sy grondwetlike regte ook nie aan hom voorgehou is nie.

Die ondersoekbeampte, ao Martin Coo­per, het getuig dat die verklaring in die teenwoordigheid van nog ’n polisie­beampte, vrouesersant Ngoma, afgeneem is en die regte stappe gevolg is.

Ngoma het as tolk opgetree hoewel Kolisi gesê het dat hy Engels magtig is.

Sy regte is aan hom voorgehou en hy is meegedeel dat dit sy keuse is om ’n ver­klaring af te lê of nie.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof meegedeel dat hy moontlik ’n handskrifspesialis sal moet roep om te getuig in die lig van Kolisi se ontkenning da t hy die dokumente voor die hof onderteken het.

Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak vir die getuienis van Ngoma wat intussen na Pretoria oorgeplaas is, tot 20 Augustus 2019 uitgestel.

Kolisi bly in aanhouding.