Groot vreugde oor dié mylpaal

Kennis van inheemse volke in protokol gedokumenteer

By die amptelike oorhandiging verlede Vrydag van die biokulturele gemeenskapsprotokol vir die Attaqua en Kannaland-Zoar inheemse Khoi-gemeenskap op Oudtshoorn was verskeie verteenwoordigers van die gemeenskap en die Departement van Wetenskap en Tegnologie. Onder hulle was hoofman Abe Herandien (met ’n kopie van die protokol links) en hoofman Poem Mooney wat ook ’n kopie van die departement ontvang het. Tussen hulle staan Tom Suchanandan, direkteur: aanbeveling en beleidsontwikkeling by die departement. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DAAR was Vrydag groot vreugde op Oudtshoorn toe ’n dokument wat die inheemse kennis van die Attaqua en Kannaland Khoi-ge­meen­skap beskerm, amptelik geloods is.

Dié biokulturele gemeenskapsprotokol is die vrug van jarelange navorsing en samewerking deur die Depar­te­ment van Wetenskap en Tegnologie en die Attaqua en Kannaland-Zoar inheemse Khoi-ge­meen­skap.

Die dokument is die oggend formeel aan hoofmanne Poem Mooney en Abe Herandien van die Attaqua en Kannaland-Zoar Khoi-gemeenskappe oorhandig.

Dit beskerm die kennis van dié gemeenskappe oor onder meer die medisinale gebruik van plante, inheemse voedsel asook hul kultuurerfenis, wat byvoorbeeld oorvertelde verhale en liedere insluit.

Geen persoon of maatskappy mag nou meer dié kennis sonder toestemming en sonder om die korrekte prosedure te volg, gebruik en geld daaruit maak nie.

Die loodsingsgeleentheid het in die CP Nel Museum plaasgevind.

Ds André Boezak het die Departement van Wetenskap en Tegnolgie bedank vir hul betrokkenheid om die ryk geskiedenis van die gemeenskappe te dokumenteer.

“Ons het in die verlede te doen gehad met kulturele kolonisasie. Alles wat ons gehad het, is weggeneem van ons,” het hy gesê.

“Nou moet ons seker maak alles word opgeskryf, anders vat groot maatskappye ons kennis en word daaruit ryk.”

Volgens Carol van Wyk van die Departement Wetenskap en Tegnologie het die projek in 2015 begin.

Sy het gesê dit is ’n regeringsinisiatief.

“Die regering wou dié inheemse kennis laat opskryf omdat dit nog nooit gedoen was nie.”

Die proses sal nou lei tot wetgewing wat inheemse kennis sal beskerm.

“Dit is baie belangrik dat u moet toesien dat u kennis opgeskryf moet word. In die verlede het mense glad nie voordeel getrek uit hierdie kennis nie,” het sy gesê.

“Die regering wil hê ons moet baat by ons inheemse kennis. U kan toestemming gee of iemand dit mag gebruik en vir hoe lank.

U sal ook die reg hê om die gebruik daarvan te stop.”

So ’n register van kennis is die verlede, hede en toekoms van ’n gemeenskap, het Tom Suchanandan, direkteur: aanbeveling en beleidsontwikkeling by die department, gesê.
Hy het vertel hy het Mooney ’n aantal jare gelede by ’n byeenkoms ontmoet en dat die departement daarna betrokke ge­raak het by die dokumentering van die kennis van inheemse gemeenskappe van die streek.
“As jy dokumenteer, registreer jy jou regte. As jy egter nie kopiereg registreer nie, kan iemand anders jou regte gebruik.
“Daarom is dit belangrik om jou kennis te dokumenteer sodat jy dit kan afdwing. Dit is die bewys van jou kundigheid,” het hy beklemtoon.