Groot opgraderings by bekende Kango Grotte

By die opening van die Kango Grotte se nuwe rioolsuiweringsaanleg was van links Fritz Theart (Maskam Water), Callie van Resburg (WEC Consult), Gerhard Cronje (direkteur Maskam Water), Alison Moos (waarnemende operasionele bestuurder van die Kango Grotte), Noluthando Mwati (waarnemende burgemeester), raadslid Johan Fourie (voorsitter tegniese dienste) and Chris Koch (direkteur tegniese dienste). (Fotos verskaf.)

Die nuwe Kango Grotte Restaurant tydens opgraderingswerk.

Vyftien nuwe toilette word by die Kango Grotte gebou.

’N NUWE restaurant, 15 nuwe toilette en ’n moderne rioolsuiweringsaanleg is van die opgrade-rings waarmee die Kango Grotte-kompleks nou spog.

Dié bekende toeriste-aantreklikheid sowat 30 km noord van Oudtshoorn word jaarliks deur sowat 250 000 mense van dwarsoor die wêreld besoek.

Vier jaar gelede was die Kango Grotte in die nuus nadat dié toerismebestemming die slagoffer geword het van finansiële wanbestuur onder die vorige munisipale regering.

Die nuwe rioolsuiweringsaanleg van sowat R2,5 miljoen is op 2 September deur die waarnemende burgemeester, Noluthando Mwati, geopen.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het R1,5 miljoen van sy eie begroting bygedra met die res wat deur die provinsiale regering befonds is.

Volgens Chris Koch, direkteur tegniese dienste by die munisipaliteit, is Oudtshoorn die eerste munisipaliteit wat oor so ’n aanleg beskik. Dit hou langtermynvoordele in vir die Grotte en die dorp.

Die aanleg maak dit moontlik dat rioolwater op die terrein gesuiwer word en die gesuiwerde water dan vir die spoel van die 15 nuwe toilette op die boonste vlak van die Grotte-gebou asook die natlei van tuine gebruik kan word.

“Die aanleg sal die aanvraag vir water na die Kango Grotte met sowat 3,6 miljoen liter per jaar verminder.”

Die nuwe aanleg se onderhoudskoste en kragverbruik is baie laag wat dit baie koste-effektief maak. Die koste om die water te suiwer is slegs sowat R2 per kiloliter.

Die tegniese span van Maskam Water, een van drie maatskappye betrokke by die konstruksie, sal die nuwe aanleg onderhou. Die ander twee maat­skappye betrokke was Transand en WEC Consult.

Die waarnemende operasionele bestuurder van die Kango Grotte, Alison Moos, het bekend ge­maak dat die Grotte nuwe toilette op al drie vlakke sal kry. Die 15 nuwe toilette wat tans gebou word, is op vlak drie, terwyl toilette vir vlakke een en twee in die volgende twee boekjare gebou sal word.

Die nuwe ablusieblok sluit ook ’n kamer waar babadoeke geruil kan word en geriewe vir mense met gestremdhede in.

“ ’n Nuwe restaurant open voor die einde September. ’n 10 jaar-kontrak vir die bedryf daarvan is met Kraaibosch Foods gesluit.”

Volgens Moos is daar ook ander kleiner verbeteringe wat tans aan die gebou aangebring word, soos verfwerk en sekere herstelwerk.