Goue toekennings vir Celebratio

Die granaat reduction het dubbelgoud gewen (foto onder), terwyl die granaat port (Bo) ook goud toegeken is. Foto’s verskaf

Karoo Wonderful Pomegranates se granaatstroop (reduction) en granaat “port” is pas onderskeidelik beloon met ’n dubbelgoud- en goudtoekenning by die sesde Aurora International Taste Challenge.

Bekende chefs, sommeliers en koskenners word met hierdie kompetisie gevra om elke produk te proe en te beoordeel.

Die geleentheid is vanjaar in Stellenbosch gehou, en wenners van verskeie kategorieë is op 31 Julie 2024 aangekondig.

Daar is 15 verskillende kategorieë waarvoor deelnemers kan inskryf, en voornemende deelnemers stuur hul produkte na die beoordelaars via ’n koerier. Honderde inskrywings van regoor die wêreld insluitend lande soos Hawaii en Australiě is in die onderskeie kategorieë ontvang en slegs die topprodukte is beloon met ’n goue of dubbelgoue sertifikaat.

Karoo Pomegranate Rouge, ’n eerste in Afrika, is deur De Krans in Calitzdorp spesiaal vir Karoo Pak gemaak. Christoff de Wet, wynmaker, het dié port-styl drankie van suiwer granaatsap gemaak. Karoo Rouge kan op sy eie, op ys, saam met sodawater of vanillaroomys as ’n Pom Pedro (inplaas van ’n Dom Pedro) geniet word.

Die granaatstroop, Karoo Wonderful Pomegranate Reduction, word by die Karoo Pak-pakstoor, geleë op die granaatplaas Celebratio gemaak. Dit is heerlik saam met Griekse jogurt of vanillaroomys en gee ’n unieke smaak aan slaaie of vleis.

Beide produkte is aanlyn beskikbaar op www.karoopak.co.za.