
Suid-Kaapse boere is bekommerd oor die moontlikheid dat bek-en-klouseer wat vanjaar in April in die Oos-Kaap uitgebreek het, na die Wes-Kaap kan versprei.
Die Wes- en Noord-Kaap is die enigste provinsies in die land waar die siekte nie voorkom nie.
Die hoogs aansteeklike, aanmeldbare staatsbeheerde siekte tas diere met gesplete hoewe aan, wat beeste, skape, bokke, varke en sekere wildspesies soos springbokke, koedoes, elande en njalas insluit.
Volgens Henry Meyer, melkboer van Mosselbaai en verteenwoordiger van Agri Wes-Kaap in die Suid-Kaap, het die uitbreking op ’n bitter ongeleë tyd gekom.
“Die uitbreking het in die verkiesingstyd gekom toe ons nie ’n minister van landbou gehad het wat nuwe regulasies kon onderteken nie. Ons het al toe die siekte uitgebreek het gevra dat die grense moet sluit en die beweging van vee verbied word, maar ons moes tot na die verkiesing wag.”
Sedertdien het landbouminister John Steenhuisen nuwe wetgewing onderteken wat siektebeheergebiede afbaken.
Die gebiede sluit die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo in waar gevalle van die siekte tans voorkom.
Volgens Meyer is daar baie melk- en vleisbeeste, om nie eens te praat van skaap-, bok- en varkboere in die Suid-Kaap nie.
“Daar is duisende melkbeeste en vleisbeeste in die Knysna- en Hoekwilgebied, ook by George en Wildernis en ook hier rondom Mosselbaai – as die siekte deurkom, kan dit strek tot by Malmesbury.”
Die siekte se gevolge kring wyd uit. “As jy dit eers in jou kudde het, kan jy net met moeite melk, want dit tas die spene aan en mastitis kan toeneem. Jy kan nie laat slag nie want hier is nie ’n geskikte slagpale in die gebied nie, en jy kan nie jou diere veiling toe stuur nie.”
“Jy kan vir die volgende paar jaar nie jou beeste van die plaas af laat gaan nie. Bek-en-klouseer kan ’n dorp soos Kareedouw, waar die dorp van die melkbedryf afhanklik is, van die kaart af vee.
“Dit sal ’n ramp wees as die siekte na die Wes-Kaap oorspoel want al die melkfabrieke word geraak. Hulle verloor hulle uitvoerstatus indien hulle nie die melk dubbel-pasteuriseer of UHT-prosesseer nie.
Boonop het die kalfseisoen begin. “Daar is baie kalfgrootmakers wat vragte kalwers wie weet waar gaan haal. Hulle laai die beeste op ’n waentjie en trek ’n seil oor en glip ongesiens verby die polisie.
“Polisiekantore soos Klaarstroom en De Rust langs die hoofroetes van die Oos-Kaap af is onderbeman. Hulle het nie die kapasiteit om elke voertuig wat verdag lyk te ondersoek nie, al probeer hulle hoe hard.”
Meyer sê dit is ’n verligting dat die siektebeheergebiede aangekondig is, maar dit gaan nie 100% die verspreiding van die siekte keer nie. “Dit gaan ’n geweldige slag wees as dit hierheen moet uitbrei.” (Deur Tisha Steyn)