Deur Garnett Wicomb
DIE Oudtshoorn Munispaliteit het tydens ’n spesiale raadsvergadering gisteroggend eenparig goedkeuring verleen dat Oudtshoorn Korrektiewe Dienste munisipale water vir ’n groentetuin by die Medium A Gevangenis kan gebruik.
In die versoek vra die gevangenis om die groentetuin met aartappels, wortels, pampoen en spinasie met munisipale water te besproei omdat grys- water nie vir die doel gebruik kan word nie. Die tuin is sowat 2 ha groot waarvan sowat 15% tans water nodig het.
Korrektiewe Dienste het self reeds sowat R350 000 bestee om waterverbruik tot die minimum te beperk met waterbesparende maatreëls en die aanbring van skadunette.
Van die vars groente word ook aan korrektiewe eenhede op Beaufort-Wes, Prins Albert, Ladismith en die Oudtshoorn Vrouegevangenis voorsien.
Die aanbeveling van die munisipale bestuurder, Allen Paulse, lui dat die versoek vir die besproeiing van die groentetuin goedgekeur word op voorwaarde dat die tuin nie vergroot word nie en Korrektiewe Dienste op eie koste ’n watermeter aanbring om waterverbruik te moniteer en dit nie 300 kl per maand oorskrei nie.
Die vergunning duur ook net vir die tydsduur wat Oudtshoorn tot droogterampgebied verklaar is, met die Raubenheimerdam se vlak bo 40%. Die toegewing sal hersien word indien die damvlak laer daal.
Korrektiewe Dienste moet ook toesien dat die totale area onder besproeiing van skadunet voorsien word, ’n besproeiingstelsel aangebring word en besproeiing slegs vroegoggend en saans geskied.
• ’n Versoek van die Klein Karoo Vaardigheidskool om boorgatwater vir die besproeiing van die skool se sportvelde te gebruik ter voorbereiding vir ’n nasionale toutrekkampioenskap volgende maand, is op voorstel van die burgemeester, Colan Sylvester, ook aanvaar.
• ’n Versoek is ook deur raadslid Gevan Juthe (Sarco) gerig dat die administrasie van die munisipaliteit kyk na die voorsiening van gryswater aan skole in Bridgton wat langs die pypleiding vanaf die rioolwerke geleë is.