Gesin vlug voor vlamme

’N GESIN wat Sondagmiddag laat op pad was van Ladismith na Oudtshoorn het daarin geslaag om veilig uit hul wit Renault Scenic te ontsnap toe ’n brand sowat 5 km buite Oudtshoorn onder die enjinkap ontstaan het.

Volgens die eienaar en bestuurder van die voertuig, Ricardo Jantjies, het hy besef hy moet kalm bly en kophou toe rook voor uit die motor begin borrel het.

Hy sê sy vrou het bekommerd geraak, maar hy kon daarin slaag om die motor geleidelik tot stilstand te bring waarna sy vrou en kinders uitgespring en na veiligheid gehardloop het.

Volgens Jantjies is hy dankbaar dat hy nog tyd gehad het om sy selfoon, beursie en bagasie uit die motor te red voordat die vlamme dit begin verteer het.

Die Oudtshoorn Brandweer was gou op die toneel om die brand te blus. (Deur Liesel le Roux)