Wie is dié plantdief by ingang?

DAAR is klaarblyklik ’n plantedief of -diewe op Oudtshoorn wat glo na donker saans plante uithaal by die Calitzdorp-ingang na Oudtshoorn.

Die storie word in die omgewing van dié ingang vertel dat ’n vrou al gesien is wat plante – waarvan baie deur inwoners geskenk is – uithaal.

Dié ingang is deesdae ’n trots vir die dorp se inwoners nadat geesdriftige Oudts­hoorniete verlede jaar ingespring en dit onder hul vlerk geneem het. Met die hulp van munisipale werkers wat die ingang netjies hou, hou van hulle ’n wa­kende oog daar.

Verlede Woensdag – ’n snikhete dag op die dorp – het ’n span munisipale werkers agt bome en talle vetplante geplant om dié ingang verder te verfraai.

Maandagoggend egter was verskeie van die nuwe plante uit die beddings ge­steel.

Inwoners betrokke by die verfraaiing van die ingang sê dit grief hulle dat party inwoners probeer opbou en mooi maak en ander dit dan misbruik.
Munisipale werkers het Dinsdag ingespring om die dief se skade ongedaan te maak en weer te plant.

Nou kan inwoners net duim vashou dat ’n plantedief nie weer by dié ingang gaan toeslaan nie… (Deur Liesel le Roux)