
Inwoners van die Groter Oudtshoorn munisipale gebied sal binnekort die geleentheid kry om insette te lewer oor die voorgestelde verkoop van 109 munisipale erwe en persele, insluitend verskeie parkies.
Volgens die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, is drie openbare vergaderings geskeduleer om publieke deelname te verseker.
Die vergaderings sal as volg plaasvind:
Dinsdag, 11 November 2025: Banketsaal, munisipale hoofgebou, 18:00
Woensdag, 12 November 2025: Thusong-sentrum, Bridgton, 18:00
Donderdag, 13 November 2025: Dysselsdorp-gemeenskapsaal, 18:00
By elke vergadering sal amptelike beswaarvorms beskikbaar wees waarop inwoners hul besware, voorstelle of opmerkings skriftelik kan indien.
Tydens ’n vergadering op Woensdag (29 Oktober) waaraan Allers, die bestuurder van Grondgebruikbestuur en Ruimtelike Beplanning Jaco Eastes, en die senior eiendomsadministrasiebeampte Hans Malgas, deelgeneem het, is bevestig dat inwoners formeel genooi sal word om hul menings en versoeke in te dien.
Allers het beklemtoon dat deursigtigheid en openbare deelname kernbeginsels van die proses is. “Ons sal nie toelaat dat besluite in isolasie geneem word nie,” het hy gesê. “Die inwoners van die Groter Oudtshoorn het die reg om te weet, te vra en hul stem te laat hoor.”
Indien daar besluit word om sekere eiendomme te verkoop, sal duidelike en bindende ooreenkomste oor die gebruik en aanwending van elke erf kontrakmatig vasgelê en deel van die amptelike veilingsvoorwaardes vorm.