Na meer as vier dekades in die onderwys het Desireé McCallum aan die einde van die eerste kwartaal, einde Maart, finaal afskeid geneem van die klaskamer, ’n loopbaan wat oor 41 jaar en drie maande gestrek het.
Haar onderwysreis het in 1985 by Bridgton Sekondêr begin, waar sy vir 24 jaar lank klas gegee het. Hoewel sy aanvanklik nie van plan was om ’n onderwyser te word nie, het die lewe haar op ’n ander pad geplaas.
“Ek wou eintlik maatskaplike werk doen, maar die Here het ’n plan vir ’n mens,” vertel sy. Sy het vinnig haar roeping gevind. By Bridgton het sy selfs die bynaam “Moeder Teresa” gekry, iets waarmee sy aanvanklik geworstel het.
“Ek het by Hoërskool Oudtshoorn gedink ek gaan minder ‘moederlik’ wees, maar ek het vinnig besef dis wie ek is. Ek kan nie anders as om om te gee nie.”
Sy voeg ook met ’n glimlag by dat haar onderwysloopbaan haar persoonlike lewe gevorm het; dit was juis deur onderwys dat sy haar man, Godfrey, ontmoet het toe sy in die Kaap gaan studeer het. Godfrey, self al afgetree en voormalige skoolhoof van Sacred Heart Primêr, sê hul lewenspaaie is deur die beroep verweef.
’n Struisie-legende
Vir die afgelope 17 jaar was Desireé deel van die Hoërskool Oudtshoorn-familie, waar sy EBW en Besigheidstudies aangebied het.
Sy vertel trots dat sy deur die jare ’n besondere hoë akademiese standaard gehandhaaf het, met ’n gemiddeld van sowat 92% en deurgaans ’n 100% slaag-syfer. Maar vir haar was sukses nooit net oor syfers nie. “Ek het met ’n lied in my hart skool toe gegaan. My kinders en klas gee was my grootste vreugde.”
Haar man beskryf haar as ’n toegewyde werker wat dikwels nagte lank aan haar werk spandeer het, iets wat sy nie ontken nie. Die egpaar se seun, Amré, ’n geoktrooieerde rekenmeester en oud-Struisie, het in 2016 gematrikuleer met agt onderskeidings.
Hy het spesiaal van die Kaap af gekom op die dag van haar afskeid en haar verras met ’n “retirement survival kit” vol lekkernye en ’n spa-geskenkbewys.
’n Onderwysloopbaan van impak
Oor die jare het Desireé ook die veranderinge in onderwys eerstehands beleef.
“Baie dinge het verander. Te veel. Die rol van die onderwyser het omgekeer, en daar is nou baie klem op ‘die kind is altyd reg’. Sosio-ekonomiese omstandighede het ook baie verander, veral aangesien ek in die apartheidsjare begin het.”
Tog bly sy gebalanseerd oor haar siening. “Daar is steeds goeie ouers en goeie kinders.”
Sy beskryf haar onderrigstyl as duidelik en gestruktureerd. “Ek hou daarvan om te verduidelik en te praat. Ek was streng, maar ek het nie nodig gehad om te skree nie. Dissipline was daar.”
Vir Desireé was haar rol altyd groter as akademie. “Behandel almal dieselfde. Geen kind word voorgetrek nie. Elke leerder was my ‘favouritste favourite’,” sê sy, ’n uitdrukking waarvoor sy by die skool bekend geword het.
Sy het ook liefdevol na haar leerders as “sweetie pies” verwys, ’n sê-ding wat oor die jare deel van haar klaskamer-identiteit geword het. By haar afskeid is dié term op ’n besonder spesiale manier teruggegee, met geskenke en lekkernye, insluitend “Sweetie Pies”.
Nuwe hoofstuk
Hoewel sy nog nie heeltemal die realiteit van aftrede kan verwerk nie, sê sy dit voel tans nog soos vakansie. “Dit voel nog net soos vakansie en die realiteit het nog nie ingeskop nie.”
Wat sy wel weet, is dat daar nuwe planne wag. “Ek sien uit om net niks te doen nie, alhoewel ek baie planne het, is dit lekker om net bietjie ‘pap-vrot’ te wees,” lag sy.
Sy en haar man beplan om te reis, familie in die Kaap te besoek, tyd in hul huis in Plettenbergbaai deur te bring, en selfs ’n wildtuinbesoek en Queen Mary-seereis saam as gesin te onderneem. Daar is ook nuwe persoonlike drome: om klavier of kitaar te leer en selfs gholf te probeer.
Aan jong onderwysers het sy eenvoudige, maar kragtige raad: “Wees voorbereid elke dag. Beweeg saam met die leerders en die samelewing.
En moenie diskrimineer nie, behandel almal dieselfde.” Haar man sluit af dat dié ‘n besonderse mylpaal is vir sy vrou. “Sy was toegewyd en sy het haar kinders liefgehad. Nou kan ons saam die nuwe hoofstuk geniet.”
Toe Die Hoorn haar Woensdag besoek het, was sy reeds op pad om nog ’n leerder te help met universiteitspapierwerk — ’n duidelike bewys van ’n passie vir onderwys wat, tot die einde toe, nie ophou nie. (MALISSA SPIES)
