Nicola Hanekom se “Die gebed van ’n halfmens”, wat vanjaar te sien was by die 30ste KKNK het nie net uitgestaan en mense aan die praat gehad nie, maar neem ook die voortou as die groot gunsteling met 10 Kanna benoemings.
Die produksie is onder meer benoem vir beste regie, beste aanbieding: toneel, beste debuutwerk en uitnemende literêre bydrae, asook verskeie spelerpryse.
Breyten Breytenbach se Boklied, onder regie van Marthinus Basson, volg kort op sy hakke met sewe benoemings, terwyl Tom Lanoye se Atropa: Die wraak van vrede ses benoemings ontvang het.
Produksies soos Ek is nie Danie en Die ander dogter het ook hul merk gemaak, elk met verskeie benoemings in hoofkategorieë, wat die breedte en gehalte van vanjaar se program weerspieël.
Volgens die onafhanklike Kanna-paneel was die kompetisie besonder sterk.
Meer as 60 toneelproduksies en bykans 40 musiekproduksies is oor ’n week beoordeel – ’n taak wat as uitdagend, maar ook uiters lonend beskryf is.
Die paneel het die hoë standaard van produksies geloof en beklemtoon dat vanjaar se fees ’n ryk verskeidenheid van stories, emosies en kreatiewe uitdrukkings gebied het.
Van gevestigde legendes tot nuwe talent, het die program iets vir elke teaterliefhebber gehad.
Spesiale erkenning is ook gegee aan die tegniese spanne agter die skerms, wie se werk ’n belangrike rol speel in die sukses van elke produksie.
Die wenners van die Kanna-pryse word op 14 Mei tydens ’n glansgeleentheid in Franschhoek aange-kondig, waar uitnemendheid in die uitvoerende kunste weer gevier sal word. (ANGELIQUE ERASMUS)
Plekspesifieke drama lei by KKNK Kannas
Nicola Hanekom se nuwe plekspesifieke drama, Die gebed van ’n halfmens, is vir tien Kannas benoem na afloop van die 30ste KKNK op Oudtshoorn. Foto: Hans van der Veen