Geliefde Elsa du Preez oorlede

DIE vriendelike gesig van Elsa du Preez (66) by die een kasregister in PNA op Oudtshoorn gaan baie gemis word.

Dit was die afgelope week die reaksie van Oudtshoorniete nadat Du Preez, by baie be-kend as “Tannie Elsa”, Saterdag (24 Oktober) oorlede is.
Du Preez, ’n geliefde inwoner van Oudtshoorn, het die afgelope 16 jaar by die PNA op Oudtshoorn gewerk. Sy was voorheen ook ’n werknemer van die CNA op die dorp.

Gerna Nortier, haar kollega vir die sowat 16 jaar, sê Du Preez, wat ’n liggaamsgebrek gehad het, was die mooiste, sagmoedigste mens.

“Al was sy siekerig met pyn, het sy ons altyd probeer opbeur. Sy het altyd almal met respek hanteer, maak nie saak wie of wat jy was nie. Ons kon almal iets by haar leer. Sy los ’n groot leemte.”

Mariette Mortlock, lid van die Fourie-familie wat die PNA besit, het op Oudtshoorniete staan saam, ’n Facebook-groep, geskryf dat Du Preez vermoedelik aan hartversaking oorlede is.

Volgens haar het Du Preez die laaste tyd gesukkel met haar gesondheid en was sy die laaste paar dae van haar lewe baie kort-asem.

Du Preez word van-dag (Donderdag 29 Oktober) om 10:00 uit die Sewendedag Adventiste Kerk in St Saviourstraat op Oudtshoorn begrawe.