Munisipale bestuurder bedank

DIE munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn, Allen Paulse, het Maandagaand (26 Oktober) met onmiddellike effek uit sy pos bedank.
Paulse, wat sedert Januarie met verpligte verlof is, het dié aand ’n bedankingsbrief aan Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, gestuur. Macpherson het Dinsdag bevestig dat hy die bedanking ontvang het.

Volgens Paulse, wat reeds maande lank wag dat ’n munisipale tugverhoor op grond van bevindings in die Webber Wentzel-verslag teen hom begin, het hy bedank nadat hy inligting ontvang het oor die samestelling van die paneel vir die tugverhoor.

“Ek het verneem dat die koalisievennote wat tans saam met die DA die dorp regeer, insae gehad het in die samestelling van die paneel vir die tugverhoor. Ek het ’n konflikverhouding met die koalisievennote en het derhalwe nie vertroue dat die tugverhoor regverdig sal wees nie.”

Paulse sê egter hy het geen probleem met ’n ondersoek wat tans deur die Valke gedoen word na aanleiding van klagtes gegrond op die Webber Wentzel-verslag wat by die SAPD ingedien is nie.

“Ek het vertroue in die ondersoek van die Valke. Hulle het my reeds genader na aanleiding van die klagtes en ek het ook reeds daarop gereageer.”

Macpherson het aangedui dat hy wag op regsadvies voordat hy op Paulse se bedanking kommentaar lewer.

• Paulse is na die plaaslike regeringsverkiesings van 2016 deur die nuwe DA-beheerde raad as munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn aangestel.

Die nuwe raadslede, Paulse en ander nuwe bestuurders wat deur die raad aangestel is, het ’n disfunksionele munisipaliteit met groot skuld geërf, maar daarin geslaag om die munisipaliteit se skuldposisie reeds binne die eerste twee jaar merkbaar te verbeter. Al die munisipaliteit se skuld, onder meer by Eskom, is teen verlede jaar reeds gedelg en die munisipaliteit het ’n surplus op sy boeke.

In Maart 2017 het die dorp se vorige burgemeester, Colan Sylvester, die verbetering in die dorp se finansies nog toegeskryf aan onder meer die aanstelling van ’n bevoegde topbestuur.

In 2018 het dit bekend geraak dat daar interne spanning en verdeeldheid in die raad en onder amptenary ontstaan het.

Dit het, na wat verneem word, ontstaan nadat Paulse die dienskontrak van die tydelike bestuurder in die burgemeester se kantoor beëindig het weens dié se misdaadgeskiedenis. Nog ’n beampte in die burgemees-ter se kantoor is ook afgedank. Dit het klaarblyklik gelei tot ernstige verdeeldheid onder DA-raadslede waarby amptenary ook betrek is.

Twee lede van die munisipale topbe-stuur wat in 2017 lof ontvang het vir hul bydraes om Oudtshoorn reg te ruk, Felix Lötter (direkteur: finansies) en Chris Koch (direkteur: tegniese dienste), het verlede jaar ook bedank weens onaangename werksomstandighede by die muni-sipaliteit. Hulle werk nou by ander munisipaliteite.

Onder meer dié spanning het ook daartoe gelei dat Sylvester deur die DA aangekla en in ’n tugverhoor op elf aanklagte skuldig bevind is. Sylvester het toe in Junie uit die DA en as burgemeester bedank. Nog ’n aantal DA-raadslede het in September bedank. (Deur Liesel le Roux)