Die munisipaliteit het hierdie week aangekondig dat munisipale rekeninge vanaf Februarie nie meer gedruk en per pos uitgestuur sal word nie.
Rekeningstate sal voortaan elektronies per e-pos of op die Collab Citizen-toepassing aan verbruikers gestuur word. Rekeninge kan ook op ’n later stadium per SMS gestuur word sodra die munisipaliteit selfoonnommers opgedateer het. Inwoners word gevra om die Collab-Citizen-toepassing op hulle fone te laai indien hulle nie rekeninge per e-pos ontvang nie.
Volgens die munisipaliteit is daar verskeie voordele om rekeninge elektronies te ontvang. Dit verseker onmiddelike aflewering, gerieflike toegang en verminderde risiko om rekeningstate te verloor.
Die munisipaliteit rig die volgende versoek en riglyne:
Om hierdie diens te geniet, moet u asseblief u kontakbesonderhede opdateer, insluitend u e-pos-adres. Alle rekeninghouers moet verseker dat hulle hul persoonlike kontakbesonderhede voor Februarie 2025 opdateer via die Collab Citizen-toepassing of by enige kantoor binne die Finansiële Inkomste-afdeling of via e-pos aan acccountenquiries@oudtmun.gov.za.
Om op die Collab Citizen-toepassing te re-gistreer, volg asseblief hierdie riglyne:
- Laai die Collab Citizen-toepassing van jou toestel se toepassingswinkel af.
- Maak die toepassing oop en kies “Registreer.”
- Voer jou persoonlike besonderhede in soos op jou huidige munisipale rekening, insluitend jou e-pos-adres en selfoonnommer.
- Volg die aanwysings om jou registrasie te voltooi.
- Sodra jy geregistreer is, sal jy jou munisipale rekeningstate via die toepassing en e-pos begin ontvang.
Indien jy enige vrae het of hulp benodig met die registrasieproses, moedig ons jou aan om nie te huiwer om die Finansiële Inkomste-afdeling te kontak nie. (HANNES VISSER)
Be the first to comment on "Geen rekeninge meer op papier gedruk"