Drezene Jonkerman, die ma wat daarvan aangekla word dat sy haar 7 jarige seuntjie Ashwin vermoor het, se aansoek om bortgog is vandag geweier. Landdros Zuastrid Deyce, het gesê die erns van die misdaad vereis dat die beskuldigde dwingende of uitsonderlike redes moet aanvoer waarom borgtog toegestaan moet word. Sy kon egter uit die getuienis voor haar geen uitsonderlike redes vind nie en het borgtog geweier. Jonkerman bly in aanhouding en kom weer op 2 Oktober voor.
Vandag se hofverrigtinge was ‘n voortsetting van die borgaansoek wat op Dinsdag 3 September begin het. Die ondersoekbeampte, ao. W Apollis, het ‘n memorandum voorgelees wat deur Leon Campher onderteken was waarin gesê word dat die gemeenskap borgtog ten sterkste teenstaan.
Tydens kruisondervraging vanoggend het Apollis aanvanklik gesê dat hy borgtog teenstaan, maar daarna gesê dat hy dit nie teenstaan indien daar streng borgvoorwaardes gestel word nie. Na ‘n vraag van die staatsaanklaer, Danelle Lee-Anne van der Westhuizen, het hy egter weer gesê dat hy borgtog teenstaan. In ‘n vraag van lannddros Deyce waarom hy telkens van opinie verander, het hy gesê dat dit vir Jonkerman se eie veiligheid is, aangesien van die gemeenskapslede vir hom gesê het dat hulle haar leed sal aandoen indien sy op borg vrygelaat word.
Jonkerman se regsverteenwoordiger, Wynand Malan, het redes aangevoer waarom borg toegestaan moet word en onder andere gesê dat daar geen bewyse voor die hof is dat Jonkerman ‘n geneigdheid tot geweld het en ‘n gevaar vir die gemeenskap inhou nie.
Die staatsaanklaer het in haar betoog gesê die erns van die klag wat moord op ‘n minderjarige behels, moet voorop gestel word.
Landdros Deyce het aan Jonkerman gesê dat sy deur die wet gelei word en dat sy deur getuoenis oortuig moet wees van uitsonderlike omstandighede wat bogtog regverdig, maar dat daar geen sulke omstandighede voor haar is nie en borg dus nie toegestaan word nie.
Na afloop van die hofverrigtinge het Die Hoorn na Jonkerman se huis gery en met bure in die straat gesels. Daar was geen aanduiding onder hulle dat Jonkerman in gevaar sou verkeer indien sy borgtog ontvang het of dat hulle enige vrees vir haar het nie, maar hulle het toegegee dat dit ‘n ernstige misdaad is en gesê die saak moet sy loop neem. Van die ongeveer 11 mense wat met die koerant gesels het, was nie een van hulle bewus van die memorandum wat in die hof voorgelees was nie. (Deur Hannes Visser)