20 Sept is McD-dag

Foto's: Lindi Brill

Agt jaar na Clive en Amelia Robinson besluit het Oudtshoorn moet ’n McDonald’s kry het baie water in die see geloop en jare se planne is in werking gestel.

Die Robinsons is nie net ’n getroude paartjie nie, maar ook sakevennote wat reeds twee McDo-nald’s-winkels in Mosselbaai besit.

Volgens Clive was hulle grootste uitdaging om ’n geskikte perseel te kry. “Ons was vasbeslote om McDonald’s in Oudtshoorn te vestig, en nou is dit ’n werklikheid. Ons is daartoe verbind om die McDonald’s-ervaring vir Oudtshoorn se mense uitsonderlik te maak.”

Die Robinsons het McDonald’s by Langeberg Mall ongeveer 10 jaar gelede gekoop en in Desember 2023 ’n tweede een in Heiderand geopen. Clive het bykans 28 jaar ondervinding by McDonald’s waar hy vir jare in bestuurs- en opleidingsposte was.

Wanneer die winkel op 20 September open sal dit meer as 30 werksgeleenthede skep wat tot ongeveer 40 uitgebrei sal word.

Amelia verduidelik dat hulle aanvanklik 20 werknemers plaaslik in diens neem aangesien 12 personeellede van Mosselbaai die eerste aantal maande in Oudtshoorn sal wees.

“Ons neem Sondag 20 nuwe werknemers vir ’n week Mosselbaai toe vir opleiding in ons ander winkels. Daarna sal hulle saam met ons gevestigde personeel en bestuurders in Oudtshoorn kom werk totdat die volle personeel uit Oudtshoorn kom.”

Die gebou, parkeerarea en deurrit van die nuwe McDonald’s is haarfyn beplan om die perseel ten volle te benut.

Klante kan die McDonald’s-toep aflaai om lojaliteitspunte te verdien van hulle eerste aankope af en vir spesiale aanbiedinge wat slegs op die toep beskikbaar is.

’n Oefenlopie met personeel word vir Donderdag 19 September beplan en die amptelike opening van die winkel vir klante is Vrydagoggend om 07:00. Die winkel sal Sondae tot Donderdae vanaf 07:00 tot 22:00 oop wees en op Vrydae en Saterdae ’n uur later tot 23:00.

Die nuwe restaurant is geleë op die hoek van Adderleystraat en Voortrekkerweg.