“ONS is hier om die lewe van Ainsley te vier. ’n Man wat hoë hoogtes bereik het in die lewe. ’n Vredemaker, brugbouer en ’n man wat mense met mekaar verbind het.”
So het Vader Dennis Organsie van die St Nicholas Rooms-Katolieke Kerk op Oudtshoorn verlede week by ’n gedenkmis vir die ontslape voorsitter van die raad van die Universiteit Stellenbosch (US), Ainsley Moos (46), gesê.
Ainsley was die seun van Alida en wyle Barney Moos van Oudtshoorn.
“Ainsley het vreedsaam gelewe en sy gawes en talente met so baie mense gedeel. As so ’n lewe nie ’n Christelike lewe is nie, dan weet ek regtig nie.
“Hier is nie huldeblyke vanaand nie, want net u teenwoordigheid is ’n huldeblyk,” het Organsie gesê.
Moos is Dinsdag 31 Januarie onverwags dood nadat hy narkose gekry het vir ’n klein operasie aan sy mond by ’n kliniek op Stellenbosch.
Hy was ook ’n uitvoerende bestuurslid van African Rainbow Capital (ARC).
Hy het in 2002 sy joernalistieke loopbaan as sakejoernalis by Beeld in Johannesburg begin.
Hy was later redakteur van Landbouweekblad en Volksblad en uitgewer van Sake24, die destydse sakeafdeling van Media24 se Afrikaanse koerante, voordat hy groephoof: kommunikasie van Sanlam geword het.
Moos het die grade BA, BPhil (joernalistiek) en ’n MBA aan die US verwerf. Hy het ook leierskapprogramme aan die Gibs-sakeskool, die Universiteit van die Witwatersrand en Harvard voltooi.
’n Gedenkdiens word volgens sy suster, Alison, Vrydag (17 Februarie) om 10:30 in die Kruiskerk, Stellenbosch gehou.
Hy laat sy vrou, Taryn Cohn, ’n driejarige seuntjie, sy ma Alida, twee susters, Alison en Alexa, en ’n broer Denrick, agter. (Deur Garnett Wicomb)
Gedenkmis vir ontslape voorsitter van US-raad
Wyle Ainsley Moos. Foto: Garnett Wicomb