Fees dalk nou jaarliks

Feesgangers by die eerste De Rust en Meiringspoortfees kuier Saterdagmiddag gesellig tydens ’n skemerkelkbyeenkoms naby die waterval in Meiringspoort. Foto: Schalk le Roux

Terwyl die skoonheid van die laatmiddagson op die rotse van Meiringspoort die asem weggeslaan het, was dit ontstellend om te sien in watter mate dit die laaste jare met graffiti ontsier is.  Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
ORGANISEERDERS van dié suksesvolle eerste De Rust en Meiringspoortfees wat die naweek op en om De Rust aangebied is, was die naweek eens dat hulle hoop om die fees voortaan jaarliks aan te bied.

Die fees het Vrydagaand afgeskop met ’n indrukwekkende kunsuitstalling van die werk van plaaslike kunstenaars. Saterdag was De Rust en omgewing bedrywig met onder meer ’n straatmark, ritte op ’n perderkar, uitstappies om veldblomme in die omgewing te verken en voëls te kyk, ’n perdryroete en ’n aandete op Meijersrust, ’n plaas in Meiringspoort. Die fees is Somdag afgesluit met ’n spesiale kerkdiens in die NG Kerk op die dorp.

• ’n Skemerkelkbyeenkoms Saterdagmiddag naby die waterval het ook die omvang van graffiti die laaste jare op rotse in Meiringspoort onder feesgangers se aandag gebring.

Vir diegene wat net deur die poort ry, is die wyse waarop mense die rotse bekrap, nie altyd sigbaar nie, maar hou jy stil en stap jy rond – soos fees­gangers tydens die skemerkelkgeleentheid kon doen – besef jy hoe dié toerismebesienswaar­digheid deur mense se ondeurdagte optrede be­skadig word.

Na verneem word, word metodes tans ondersoek waardeur die grafitti verwyder kan word sonder om die rotse te beskadig.