FAMSA verf jou pinkie pers vir vroue

Die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, onderteken die Purple Pinky-verbintenis (foto links). Foto: Hannes Visser Die Purple Pinky-span van Famsa tydens die besigheidskamer se netwerkaand was, van links: Elisabé Berry (senior maatskaplike werker), Riana Fourie (maatskaplike werker en HUB van FAMSA Oudtshoorn) en Lourette van Heerden (maatskaplike werker). Foto verskaf.

Tydens Vrouemaand het FAMSA Oudtshoorn ’n unieke inisiatief van stapel gestuur om mans te nooi om hulle te verbind tot die beskerming van vroueregte deur hulle pinkienael pers te kleur.

FAMSA se nuutaangestelde hoof uitvoerende beampte, Riana Fourie, het Donderdagaand tydens die besigheidskamer se netwerkaand die projek geloods. Sy het alle mans genooi om hulle pinkie-naels met pers naellak te laat kleur en ook ’n register te teken waarin hulle onderneem om die regte van vroue te ondersteun en beskerm. Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, was onder die mans wat die verbintenis gemaak het.

“Die projek duur tot 31 Augustus en ons beplan om dit ’n jaarlikse projek tydens Vrouemaand te maak. Ons mikpunt is 5 000 mans wat hul pinkies laat verf en die register onderteken,” sê Fourie.

Volgens haar gaan personeellede van FAMSA-Oudtshoorn deur die loop van die maand instansies en besighede besoek en mans uitdaag om die Purple Pinky-verbintenis te ondertekeken.

Mans en seuns is ook welkom om by FAMSA se kantore in St Johnstraat, langs Spar, te besoek om die verbintenis te onderteken.

Organisasies, kerke en skole kan ook FAMSA by 044 272 7020 skakel om te reël dat die Purple Pinky-span hulle besoek. Om fondse vir spesifieke vroue-projekte in te samel verkoop FAMSA ook pers balkies (R10) en pers strikkies (R5).

Dit kan ook bestel word deur die kantoor by die bogenoemde nommer te skakel. FAMSA-Oudtshoorn het 103 personeellede wat ’n wye streek bedien en is die gootste FAMSA-tak in die Wes-Kaap. (HANNES VISSER)