Ervare TFASA-vlieënier sterf in vliegongeluk

Links: James O’Connel was ’n ervare vlieënier met 36 jaar se ondervinding in vliegtuie en helikopters. Foto verskaf Regs: ’n Foto van die Impala Mk1-vliegtuig in aksie tydens Sat-erdag se Weskus lug-skou. Foto: Jeffrey Abrahams Photography

Die lugvaartgemeenskap was geskok met die tragiese dood van James O’Connel, vlieënier en vlieginstrukteur by TFASA (Test Flying Academy South Africa) op Oudtshoorn, tydens ’n lugskou.

Die tragiese ongeluk het op 22 Maart gebeur by die Weskus Lugskou in Saldanha terwyl O’Connel ’n vertoning met ʼn Impala Mk1-vliegtuig gelewer het.

TFASA het Sondag in ’n mediaverklaring gesê dat die omstandighede rondom die oorsaak van die ongeluk formeel ondersoek word en dat hulle hul volle samewerking met die burgerlugvaartowerhede gee.

O’Connel was ’n legende in lugvaartkringe met 36 jaar ervaring in verskeie vliegtuie, waarvan 25 jaar daarvan as toetsvlieënier was. Hy was vir meer as 10 jaar betrokke by TFASA as hoofvlieg-instrukteur en hoof van die toetsvlieënierskool.

Hy het meer as 4 000 vliegure op helikopters en 1 600 ure op vastevlerk-vliegtuie gehad. Sy loopbaan het hom onder andere deur die Suid-Afrikaanse Lugmag geneem, waar hy 29 jaar gedien het.

“James se heengaan is ‘n onmeetbare verlies vir die lugvaartgemeenskap en vir ons almal by TFASA,” het Jean Rossouw, president van TFASA gesê.

“James was nie net ‘n merkwaardige vlieënier nie, maar ’n mentor en ‘n vriend wie se impak nog jare lank gevoel sal word. Ons betuig ons innige meegevoel met James se familie, vriende en kollegas, en ons spreek ook ons opregte waardering uit aan die noodreaksies en lugskouorganiseerders vir hul vinnige en professionele optrede,” sluit Rossouw af.

’n Privaat huldeblykdiens word vir O’Conner op 7 April om 15:00 gehou.. Daar sal ook ’n regstreekse uitsending van die diens wees. (ANGELIQUE ERASMUS)