Alvonzo na maande veilig tuis

Alvonzo Roman Woensdagoggend by Lanseria Lughawe, in Johannesburg net voordat sy vlug na George vertrek. Foto verskaf

Na ses maande van sukkel en uiterste kommer van sy ma, is Alvonzo Roman (23) uiteindelik op pad huis toe waar sy ma en sibbe in Rosevalley, Oudtshoorn woon.

Alvonzo het op 25 September 2024 sonder enigiemand se medewete op Oudtshoorn onder die seil van ’n trok geklim wat mielies vervoer en in Johannesburg beland.

Die Hoorn het met die trokdrywer gepraat oor wat gebeur het.

“Ek het die trok wat reeds gelaai was, in Oudtshoorn opgetel en in Beaufort-Wes oorgeslaap die aand. Die volgende oggend sowat 25 km buite Beaufort-Wes het ’n motoris my laat weet dat my seil agter oop is. Ek het gestop, die seil vasgemaak en verder gery. Ek het op daardie stadium glad nie geweet daar is iemand onder die seil nie.

Met die trok se aankoms by SAB se fasiliteit in Johannesburg het Alvonzo agter uit die trok gekom toe die mielies afgelaai is.” Die drywer het toe ’n video gemaak en op sosiale media geplaas om Alvonzo se familie te soek.
|
SAB se sekuriteit het egter vir Alvonzo kom haal, en gesê dat hul die polisie moet ontbied omdat hy op privaateiendom is en dit ’n oortreding is.

Die Hoorn het vir SAB ’n media- navraag gestuur om uit te vind wat van Roman geword het en of hy destyds aan die polisie oorhandig is. Hul het per oproep aangedui dat hulle die navraag ondersoek en sal terugkom na die koerant.

Wat van Alvonzo geword het vanaf 25 September is onseker, maar op 17 Maart 2025 is sy familie deur die Maktikwana Hospitaal in Mpumalanga gekontak. Alvonzo het na wat verneem word sy voet en ’n gedeelte van sy been verloor nadat hy deur ’n trein raakgery is. ’n Ambulans het hom glo op die toneel gekry en na die hospitaal geneem.

Die uitdaging vir sy ma was egter om hom terug in Oudtshoorn te kry, omdat die been infeksie het. “Ek het oral probeer om hom by die huis te kry, maar niemand kon my help nie,” vertel Jessica Roman en voeg by dat Alvonzo verstandelik spesiale behoeftes het.

Sy het intussen ’n lening uitgeneem om vir hom ’n vliegtuigkaartjie te koop wat meer as R2 000 gekos het en ook om te help met die vervoerkoste.

“Die sosiale werker in Mpumalanga was wonderlik en het aangebied om hom Woensdag na die Lanseria-lughawe te neem, waarna ’n ander dame aangebied het om hom die middag op George te haal en hom huis toe bring.”

Volgens Jessica sou hulle Alvonzo Woensdag direk na die Oudtshoorn- hospitaal neem, waar hy verder die nodige mediese sorg kry wat hy benodig.

“Ek kan nie my emosies begin beskryf nie. Ek is opgewonde en hartseer terselfdertyd, maar bly dat hy weer by die huis is.”

Alvonzo is die oudste van vier sibbe, een van 16 jaar oud en ’n tweeling van 9 jaar.
Die rede waarom hy verlede jaar op die trok geklim het, is nie duidelik nie. Sy tannie, Chrizelda Dirks, sê dat hy gereeld geryloop het en dalk in die trok geklim het sonder om te besef dat dit baie ver van die huis af gaan ry.

Die familie is opreg dankbaar vir Mveli Khoza Ka Ndamase, die maatskaplike werker wat Roman gekry het, en kontak met die gesin gemaak het. “As dit nie vir hom was nie, was Alvonzo nie tuis nie. Hy het ongelooflike moeite gedoen om ons te help.” sê Dirks. (ANGELIQUE ERASMUS)