Emosies loop hoog in Oudtshoorn-raadsaal met nuwe leiers wat verkies word

Raadslede Chris Macpherson (DA, links) en Colan Sylvester (OGI) in ’n woordewisseling oor die voortgang van die raadsvergadering. Sylvester het aangedui het die raadsvergadering volgens hom onwettig was, met die ANC en sy koalisievennote wat die raadsaal verlaat het. Die opposisie het egter verskil. Foto: Stefan Skapie Goosen

’N DA-KOALISIE het Woensdagmiddag in ’n verrassende wending die meerderheidstem in die raad bekom met ’n nuwe speaker, burgemeester en onderburgemeester wat verkies is.

Johan Allers (VF Plus) is tot die nuwe speaker verkies na ’n mosie van wantroue in Colan Sylvester (OGI) geslaag het, terwyl Mlandeli Nyuka (Saam­­staan) tot nuwe onderburgemeester verkies is na ’n mosie van wantroue in Leon Campher (Advies­kantoor). Chris Macpher­son (DA) is daarna tot nuwe burgemeester verkies na ’n mosie van wantroue in Chad Louw (ANC).

Die verkiesing van Allers, Nyuka en Macpherson is deur die 13 raadslede van die DA, Icosa, VF Plus en Saamstaan gesteun, met die 12 raadslede van die ANC, PA, Advieskantoor en Good wat dit teengestaam het. Die vergadering het ook besluit dat die huidige aanstellingsproses om ’n munisipale bestuurder aan te stel, eers ge­staak moet word. Die Hoorn het onlangs berig dat die proses moontlik gestaak gaan word omdat die proses “gekompromitteer” is.

• Woensdag se vergadering het rustig verloop totdat Vlancio Donson (Icosa) ’n vorige mosie van wantroue in Campher weer tot stemming wou bring. Dit was die begin van drama.

Na ’n geheen-en-weer tussen Colan Sylvester (OGI) in die spea­kerstoel en onder andere Donson het die ANC vir ’n koukus gevra, wat Sylvester goedgekeur en bygewoon het.

Met die voortsetting van die vergade­ring het die ANC-hoofsweep, Mziwoxolo Tyatya, terugvoer van die ANC-koukus aan Sylvester oorhandig wat ’n hofbesluit van ’n ander munisipaliteit voorgehou het as die rede waarom die mosie onwettig sou wees. Volgens Sylvester sou raads­lede wat voortgaan met die betrokke mosie, onwettig optree. Raadslede van die ANC-koalisie het die raadsaal verlaat.

Volgens Macpherson egter wou ‘n meerderheid raadslede die middag voortgaan met die vergadering en is ‘n dokument opgestel met ‘n versoek aan die speaker vir ‘n dringende raadsvergadering met drie wantrouemosies nog die middag – volgens die voorgeskrewe ordereëls wat aandui dat so ‘n vergadering moet plaasvind op ‘n tyd en plek wat ‘n meerderheid raadslede bepaal. Sylvester het in reaksie aangedui dat hy dit vir die komende Maandag sou belê.

Macpherson sê die ordereëls is daarna steeds gevolg en omdat die speaker nie wou toestem nie, is die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, versoek om raadslede kennis te gee dat ‘n dringende raadsvergadering op versoek van ‘n meerderheid raadslede gaan plaasvind, met drie mosies van wantroue wat daartydens hanteer sal word asook die aanstellingsproses van die munisipale bestuurder. (Deur Stefan Skapie Goosen, berig aangepas sedert eerste plasing)