Die nuwe Ek is Oudtshoorn-logo – waarvoor inwoners en besoekers aan die dorp maar kan begin uitkyk. Hier van links is Joanika Leonard wat die wenner was van die kompetisie om ’n logo te vind, Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer se Ek is Oudtshoorn-werkgroep, en Madeleine Miles, kunstenaar wat betrokke was by die ontwikkeling van die konsep van die logo. Foto: Schalk le Roux

Nege nuwe besighede is Donderdagaand by die Oudtshoorn Besigheidskamer se maandelikse netwerkaand as nuwe lede van die kamer verwelkom. Hulle is van links Arthur Jansen en Petro Davel (Overberg Wealth & Risk Management), Christo Nel (Heartbeat FM), Gideon Badenhorst (voorsitter), Tania Claassen (De Biltongman), Gerhard Meyer (Celebratio Granaatplaas), Abri Ferreira (Alert Patrol Security), Aurona Weideman (Nostalgie Restaurant & B&B), Lynette Janse van Rensburg (Robin’s Nest Interiors) en Hennie Beukes (Conti Staal). Afwesig: Le Roux van der Westhuizen (Karoo Tuin Kwekery). Foto: Schalk le Roux
Deur Liesel le Roux
AS ek sleg oor Oudtshoorn praat en ek woon hier, dan wys ek ook ’n vinger na myself, want elkeen van ons is Oudtshoorn.
Dit was die woorde van Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer se Ek is Oudtshoorn-werkgroep, by die bekendstelling van die Ek is Oudtshoorn-logo by die kamer se netwerkaand wat verlede Donderdag by Aifa gehou is.
Die logo is geïnspireer is deur die “pin” wat ’n universele simbool is om op ’n kaart ’n posisie aan te dui, en sal byvoorbeeld by dorpsingange en ander plekke te sien wees. Inwoners sal ook binnekort onder meer plakkers vir hul lisensieskyfies met die logo op kan koop.
Ek is Oudtshoorn wil ’n trots en positiwiteit op die dorp aanmoedig, en ook dat inwoners op ’n nuwe manier oor hul dorp – waarvan hulle almal deel is – te dink en te begin praat. Volgens Vorster is dit immers die inwoners se keuse om hier te woon en kan hulle dus ook kies om op ’n positiewe wyse ’n verskil te maak.
Hy het daarna verwys dat mense vinnig op Facebook hul dorp of iemand op die dorp kritiseer sonder om te besef dat wat hul skryf nasionaal en internasionaal gelees word, ook deur mense wat hulle wil hê in die dorp moet kom belê.
Gesprekke oor ontwikkeling en belegging
Die voorsitter van die Besigheidskamer, Gideon Badenhorst, het vroeër die aand gewys op inisiatiewe waarmee die kamer besig is om ontwikkeling en belegging na die dorp te lok.
Dit sluit samesprekings in met die Departement Ekonomiese Ontwikkeling en die munisipaliteit oor onder meer:
• Die opgradering van infrastruktuur op die dorp wat ’n voorvereiste is vir ontwikkeling;
• Die noodsaaklikheid van kundigheid by die plaaslike ekonomiese ontwikkelingsafdeling van die munisipaliteit;
• Die versnelling van besluitneming by die munisipaliteit omdat dit ’n invloed op die dorp se ekonomie en ontwikkeling het;
• Die belangrikheid dat die munisipaliteit plaaslik moet ondersteun;
• Die bepaling, onderhoud en bemarking van die dorp se grootste bates – soos byvoorbeeld die Kango Grotte, die NA Smit Swembad en die tartanbaan by die De Jager Sportstadion.
Eerste vroulike studente by Aifa
Ses vroulike studente is onder die Chinese studente-vlieëniers wat tans by Aifa op Oudtshoorn vir die Chinese lugvaartbedryf opgelei word. Dit is die eerste vroulike studente wat hier opleiding ontvang.
Pikkie Siebritz, uitvoerende hoof van Aifa – die vliegskool op Oudtshoorn, het by die netwerkaand wat deur Aifa geborg is, gesê Aifa word tans deur die Chinese as een van die top-vliegopleidingskole wêreldwyd beskou.
“Ons wil graag internasionaal gereken word,” het Siebritz gesê.
Aifa lei sedert 2012 vlieëniers op en het basisse in Oudtshoorn, George en Beaufort-Wes. 570 Chinese vlieëniers het oor die tydperk gekwalifiseer met 39 wat onsuksesvol was. 30 Keniane en 62 Suid-Afrikaners is ook die afgelope jare deur Aifa opgelei.
Aifa se personeelkorps bestaan uit 185 mense.
Siebritz het met verwysing na ’n openbare deelnameproses vroeër vanjaar oor Aifa se toekoms op Oudtshoorn gesê hy het nie-amptelik gehoor dat die steun van inwoners en besighede wat ten gunste daarvan was dat Aifa op Oudtshoorn moet bly, oorweldigend was met ’n minimale teenstem.