‘Ek kan nie wag om om die blok te loop nie’

Inspirerende Stephan Viljoen ontvang sy eerste prostese

Stephan Viljoen, ’n onderwyser by die Laerskool Wesbank op Oudtshoorn, se vrou, Jaquelene, help hom hier om sy nuwe prostese aan te trek. Viljoen se voet is in Augustus afgesit. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
VIR Stephan Viljoen, gewilde onderwyser van die Laerskool Wesbank op Oudtshoorn, het ’n nuwe hoofstuk in sy lewe verlede Vrydag aangebreek toe hy sy eerste prostese ontvang het nadat sy linkervoet op 15 Augustus afgesit is.

Maandag kon hy reeds kort entjies sonder krukke loop!

Viljoen was genoodsaak om sy voet te laat afsit na ’n besering ’n aantal jare gelede wat tot kompli­kasies en konstante pyn gelei het.

Die merkwaardige Viljoen en sy vrou Jaquelene se positiwiteit het die afgelope maan­­de almal wie se paaie met hulle gekruis het geïnspireer.

Dié positiewe energie straal uit Vil­joen as hy met jou gesels, én dit is aansteeklik.

Hy verduidelik dat die eerste plas­tiekgiet­vorm van sy been die vorige week ge­maak is.

’n Silikoon-“mou” met ’n indraai pennetjie pas onder in ’n gaatjie in die prostese. Die mou en pen word dan ingeklik in die prostese en dit hou die been op sy plek.

Viljoen vertel dit is nie maklik om die pennetjie in die gaatjie te kry nie en dat dit oefening verg.

“Ek het Sondag omtrent vyftien minute gesukkel om die mou en pennetjie in die regte posisie te kry sodat hy perfek pas,” skerts hy.

Hy sê ook dat dit oefening verg om die silikoonmou reg aan te trek sodat hy perfek pas.

Volgens Viljoen het hy op die goedkoper plastiekbostuk besluit om geld te bespaar vir wanneer sy been een­dag sodanig herstel het en stabiel is dat hy die duurder veselglasbostuk kan kry.

Hy moet ook baie versigtig wees vir infeksies, en volg ’n streng skoonmaakroetine.

“Die moeilikste deel van hierdie pad wat ons loop, was nadat ons die besluit geneem het. Die onsekerheid oor wat voorlê en oor hoe dit ons huwelik sou affekteer, was vir my die moeilikste.”

Jaquelene vertel: “Die oomblik toe hulle hom wegstoot vir die operasie om sy voet af te sit, was vir my moeilik totdat hy terug was. Ek moes net weet hy is okei na die operasie.”

Vir Stephan is die vooruitsig om weer ’n normale lewe sonder kon­stan­te pyn te lei veel meer werd as sy voet. Hy het letterlik sy voet in ruil daarvoor gegee.

“Ek kan nie wag om weer saam met my vrou iets net so eenvoudigs te doen soos om op die strand te loop of net om die blok te stap nie.”

Hulle gaan gereeld gimnasium toe en sê mense se ondersteuning verbaas hulle daagliks.

“Dis amazing om te sien dat ’n ge­meenskap saamstaan en my help. Ek het so baie compassion geleer.

“Hier­die nuwe lewe is absoluut ’n geskenk van God. Ek sal dieselfde keuse maak as ek weer moet.

“Ons wil regtig vir almal uit ons harte dankie sê vir elke bydrae, hulp, boodskap en omgee.

Dit verstom ons steeds daagliks. Dit voel steeds onwerklik dat mense so baie vir ons omgee.”

Viljoen sal sy nuwe prostese vir die volgende drie tot vier maande dra totdat die kuitspier genoeg geatrofeer (gekrimp) het sodat hy die veselglasbostuk kan kry.

“Ek dink nie meer aan pyn nie, en dis wonderlik,” sê hy.