Deur Liesel le Roux
FASE 1 van die opgradering van Oudtshoorn se stortingsterrein – die omheining van die hele Grootkop-stortingsterrein – behoort voor die einde van die jaar af te skop.
Paul Muller, senior bestuurder: strate en stormwater by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, sê die munisipaliteit is tans besig met die tenderproses en dat bouwerk waarskynlik eersdaags sal begin.
Die omvangryke opgradering van die stortingsterrein sal ingevolge omgewingswetgewing geskied, dit uiteindelik moontlik maak vir inwoners om te herwin en hopelik ’n veiliger stortingsterrein daarstel.
Fase 2 van die stortingsterrein sal in die volgende boekjaar afskop. Dit sal onder meer ’n herwinningsaanleg insluit met toegangskontrole by die hek, ’n weegbrug en ’n soort skuur met ’n betonvloer waar informele herwinners kans sal kry om wat hulle wil hê, te verwyder. Die rommel wat hierna oorbly, sal na die stortingsterrein vervoer word.
Mense wat wil herwin, sal nie meer toegang tot die stortingsterrein self kry nie en dus ook nie meer daar kan woon nie.
Volgens Muller is daar ’n verskeidenheid wetgewing waaraan die nuwe terrein moet voldoen. Dit sluit voorskrifte oor basislae in wat die terrein moet bedek om te voorkom dat vullis ondergrondse water besoedel.
Vullis sal ook met verskeie voorgeskrewe lae bedek moet word.
Muller sê herwinning deur inwoners is beslis deel van die toekomsbeplanning van die Groter Oudtshoorn, met ’n twee- of driesakstelsel wat ondersoek word.
• Mervin Olivier van Gibb Engineering & Architecture, ’n firma wat verlede jaar betrokke was by ’n ondersoek na die geskiktheid van terreine op die dorp vir ’n herwinningsaanleg, het tydens ’n voorlegging in 2017 daarop gewys dat herwinning ’n stortingsterrein se leeftyd baie kan verleng en in die proses die raad miljoene rande kan spaar.