Somerset deel frustrasie
Arrie Somerset deel sy frustrasies oor behuising met ’n tolk tydens ’n vergadering tussen inwoners van Black Joint, Kanaalweg en die GG-kamp en die Oudtshoorn Munisipaliteit verlede Donderdag in die Thusong Sentrum. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
INWONERS van die drie informele woonbuurte, Black Joint, Kanaal en GG-kamp, het tydens ’n vergadering in die Thusong Sentrum wat by tye byna hand-uit geruk het, weer eens hul ontevredenheid oor krag en behoorlike behuising uitgespreek.
Die vergadering van die inwoners met die munisipaliteit is deur ’n gemeenskapsleier, Andrew Damons, aangevra en deur raadslid George Kersop, voorsitter Finansiële Dienste-komitee, en Shehaam Simms, waarnemende direkteur: menslike nedersettings en strategiese dienste, bygewoon.
Feitlik elke spreker het met dieselfde ongelukkigheid na vore gekom, naamlik dat hulle al baie jare in haglike toestande woon en sonder krag moet klaarkom terwyl die munisipaliteit net beloftes maak wat nooit nagekom word nie.
Volgens Arrie Somerset van Kanaalweg woon hy vir die tweede keer die afgelope tien jaar in ’n deerniskamp en wag hy al 25 jaar vir ’n huis. Volgens hom is sy vrou sieklik en is hy moeg gewag.
“Die munisipaliteit kom nie sy beloftes na nie en ons is nou keelvol,” het Somerset gesê.
Nadat gemoedere kalmeer het, het Simms die situasie aan die inwoners verduidelik en watter stappe die munisipaliteit tans doen om die kwessie aan te spreek. Volgens haar het die munisipaliteit ’n dokument hieroor aan die Wes-Kaapse regering gestuur waarin gevra word vir fondse om 600 huise in die drie gebiede te bou. Die munisipaliteit het reeds R1,6 miljoen ontvang waarvan R1,2 miljoen aangewend is vir ’n voorlopige ondersoek, ’n vloedlynondersoek en voorlopige beplanning.
’n Gedeelte van die grond behoort egter aan privaat-eienaars en die raad probeer tans om die grond te bekom. “Die grond is van die munispaliteit gekoop vir ontwikkeling maar omdat dit nie gebeur het nie, probeer die raad die grond nou terugkry,” het Simms gesê.
Die munisipaliteit se eerste prioriteit is om huise te bou, het Simms aanwesiges verseker.