Deur Liesel le Roux
DIE stank by die hangbrug in Kerkstraat op Oudtshoorn sal net opgelos word indien die stukkende of verstopte rioolstelsels by die SANW-basis op die dorp herstel word.
Volgens Paul Muller, senior bestuurder: strate en stormwater by die munisipaliteit, is die oorsaak van die probleem van rioolwater wat in die Grobbelaarsrivier loop, onteenseglik defekte of verstopte of swak bestuurde rioolstelsels op die SANW-basis. Die Oudtshoorn Munisipaliteit en Tuinroete Distriksmunisipaliteit het reeds in Mei die probleem onder die aandag van die plaaslike SANW en assistent-direkteur van omgewingsgesondheid (Area Militêre Gesondheidseenheid, Wes-Kaap) gebring en ’n formele klag ingedien.
Muller sê omdat die basis ’n sekuriteitsekerheidspunt is, het die munisipaliteit en Distriksmunisipaliteit nie jurisdiksie om daar te werk nie.
Volgens ’n verslag wat die munisipaliteit aan Die Hoorn beskikbaar gestel het, het omgewingspraktisyns van die munisipaliteit en distriksmunisipaliteit ’n ongeskeduleerde inspeksie in Mei gedoen in die omgewing van die offisiersmenasie naby die hoek van Kerkstraat en Parkweg waar die stormwater van die SANW-basis versamel. Van daar vloei dit met ’n stormwaterpyp na die rivier. “Waar stormwaterstelsels veronderstel is om droog te wees as dit nie gereën het nie, was dit vreemd om te sien die rioolwater in die stormwaterstelsels by die SANW-basis was dieselfde gehalte en volume as die invloei by die hangbrug,” lui die verslag.
Muller en Johann Smith, senior omgewingsgesondheidspraktisyn by die Distriksmunisipaliteit, het die probleem daarop aan ’n hoëvlakse afvaardiging van SANW-offisiere verduidelik, en hulle ingelig oor die omgewingsgesondsheidsgevaar.
Die Distriksmunisipaliteit het aangedui dat Die Hoorn se navraag oor die rioolprobleem by die hangbrug aandag geniet, terwyl Die Hoorn navrae gerig het aan die SANW en wag op terugvoer.