DIE saak teen ’n egpaar van Oudtshoorn wat hulle glo met onwettige staatstenders verryk en begunstigdes benadeel het, is vroeër vandeesmaand ná die getuienis van een van die beskuldigdes vir verdere verhoor tot einde Maart uitgestel.
Die staat beweer dat Marthinus Rabie, ’n voormalige tegnikus by die Wes-Kaapse departement van landbou se Oudtshoorn-proefplaas, sy vrou, Johanna Rabie, se twee beslote korporasies, Attaqua en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van tenders. Miljoene rande is by die saak betrokke.
Marthinus Rabie het verlede Maandag begin getuig en sal met die voortsetting van die saak op 30 Maart deur die staatsaanklaer, Hyron Goulding onder kruisverhoor geneem word.
Volgens Rabie was hy nooit in diens van een van sy vrou se beslote korporasies nie en is dit onwaar dat hy terreinbesoeke so gereël het dat ander dit nie kon bywoon nie.
Volgens hom het hy ook nie op die departement se tenderkomitee gedien om die maatskappye van sy vrou te bevoordeel nie.
Oor die bywoning van terreinvergaderings het Rabie getuig dat enigeen dit kon bywoon ongeag dit familie was of nie. Daar word vroegtydig kennis gegee en soms word twee sulke vergaderings op ’n dag gehou om soveel as moontlik mense die kans te gee om dit by te woon.
Hy het ontken dat hy ooit as professionele persoon by sy vrou se korporasies betrokke was.
Die saak word deur streeklanddros Daniël Boks aangehoor en is vir die kruisondervraging van Marthinus Rabie tot 30 Maart uitgestel.
Hyron Goulding is die aanklaer terwyl Gideon Badenhorst van James King & Badenhorst namens die beskuldigdes optree. (Deur Garnett Wicomb)