Eden loods herwinningsprojek by die Tiep

nuus

Die Eden Distriksmunisipaliteit gaan ’n herwinningsprojek by die Oudtshoorn-stortingsterrein (Tiep) begin. Van die mense wat op die stortingsterrein bedrywig is, sal deur die projek bemagtig word.

Dié projek is ’n eerste vir die Wes-Kaap en sal as dit suksesvol is, na ander munisipaliteite uitgebrei word.

Die munisipale be­stuurder van Oudts­hoorn, Allen Paul­se, het die pro­jek Maandag by ’n spesiale raadsvergade­ring be­kend gemaak en gesê dit is een van die ma­nie­re waarop gepoog gaan word om beheer oor die mense by die stor­tings­terrein uit te oefen.

“Voddehappers is landwyd ’n probleem,” het hy gesê.

“Hulle storm op jou voertuig af as jy daar kom en stamp selfs duike in voertuie. Die herwinningsprojek wil die voddehappers be­trek en bemagtig en ook ’n inkomste vir hulle bewerkstellig.”

Paulse het gesê daar kan nie voldoen word aan versoeke om die stortingsterrein te skuif of vullis elders te stort nie.

“Om elders te stort is baie duur. Dit kos die Bitou Munisipaliteit R6 miljoen per jaar om hul vullis in Mosselbaai te gaan stort.

“Die munisipaliteit moet sy stortingsterrein waarvoor hy ’n lisensie het, optimaal benut. Die terrein het na beraming nog ’n leeftyd van 38 jaar.