Mors is nie baie slim nie

Littering

Die foto bo sê alles oor morsjorse.

En ja, die meeste morsjorse sal waarskynlik regmerkies in al die spasies kry – soos die kennisgewingbord sê…

Die foto is die afgelope week deur die City of Johannesburg gedeel op hul Twitter-rekening met die boodskap: As jy oral regmerkies kry, weet jy wat om te doen.

Om te mors is nou maar eenmaal nie volwasse of slim nie, en diegene wat ander probeer wysmaak dat hulle “werk skep” deur te mors – soos party inwoners van die Groter Oudtshoorn hulle morsery verdedig – moet miskien slimmer oor die lewe begin dink en/of dalk grootword.
Of dalk net ophou lui wees en begin omgee vir die omgewing.

Gemors is nie net lelik nie, dit laat mense ook hul trots op hul omgewing verloor.

En dit skep uiteindelik ’n wesenlike gesondheidsgevaar.

Mense wat hul vullissakke sommer enige plek gaan uitsit, is deel van ’n groter probleem van ’n gebrek aan respek vir ander.

’n Inwoner van Ladismith kom vertel vandeesweek van iemand wat Maandagoggend drie vullissakke langs die pad van Oudts­hoorn na Calitzdorp neergesit het – sowat 6 km van Oudts­hoorn af. Die sak is vol drank-bottels, leë sigarethouers, ’n pildosie met die naam van die gebrui­ker daarop en ander vullis. Om welke rede gaan plaas mense hul vullis langs ’n grootpad?

Die vullis was gelukkig teen Dinsdag verwyder – waarskynlik deur wer-kers van provinsiale administrasie.

In die Groter Oudtshoorn is die waarheid dat daar nie genoeg munisipale personeel is om al die gemors van inwoners op te ruim nie.

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester, het die week ’n beroep op inwoners gedoen om vullis in houers te plaas wat daarvoor beskikbaar gestel is.

’n Foto van die munisipaliteit oor vullis in Bridgton is genoeg om enigiemand se hare te laat regop staan.

Dit laat ’n mens met simpatie vir die inwoners van die omgewing.

Moenie vir ’n oomblik dink almal in daardie omgewing mors saam nie. Die Hoorn word gereeld gekontak deur gefrustreerde en dikwels moedelose inwoners wat kla oor ander se morsery naby hul woonplekke.