Eben Smith, ’n elfjarige leerder van Laerskool Wesbank in Oudtshoorn, het op 17 Februarie in Kaapstad aan ’n internasionale kompetisie van “speedcubing” deelgeneem.
Eben het sy beste tyd van 2,9 sekondes behaal om die “pyraminx”, ’n driehoekige raaisel, op te los. Hiermee het hy die vyfde plek in Suid-Afrika behaal, asook die negende plek in Afrika.
“Speedcubing” kan beskryf word as die aktiwiteit om so vinnig as moontlik ’n verskeidenheid van verwronge 3D “puzzles” op te los volgens kleur platvorms, waarvan die 3×3 Rubic’s Cube die bekendste is.
Eben het sy interessante stokperdjie ontdek nadat sy ouers, Jabes en Lize Smith, vir hom twee jaar gelede ’n Rubic’s cube gekoop het en hy nie moed opgegee het tot hy dit kon oplos nie.
Volgens sy ma, Lize, het hy homself deur kenners op die internet begin leer hoe om die 3D raaisel op te los, en het hy toe agtergekom dat hy die ‘taal’ en algoritmes goed verstaan.
“Hy het begin ondersoek instel na ander wat ook hierdie stokperdjie beoefen en ’n nuwe wêreld van ‘speedcubing’ het vir hom oopgegaan”, het sy vertel. Volgens sy ma sal Eben graag wil sien dat meer kinders en selfs volwassenes by hierdie sport in Oudtshoorn betrokke sal raak, wat meer samekomste en op die ou einde dalk wêreldklas kompetisies in die Suid-Kaap sal meebring.
“Dit is boonop baie goeie oefening vir die brein en vingers, en verhoog ook probleemoplossings vaardighede”, het Smith afgesluit. (Deur Lindi Brill)
Eben is Rubic’s se baas
Eben Smith (11) wys sy beste tyd wat hy behaal het om die ‘pyraminx’, ’n driehoekige raaisel, op te los by ’n nasionale kompetisie in Kaapstad. Foto: Verskaf