Dysselsdorpers is keelvol vir misdaad

Die inwoners van Dysselsdorp is siek en sat vir die vlaag van misdaad, moorde en dwelmmisbruik wat hul dorpie teister.

’n Groot groep onder leiding van die gemeenskapsleier, Leon Campher, het Dinsdagoggend opgeruk na die Oudtshoorn landdroshof vir ’n plakkaatbetoging waartydens hulle ’n memorandum aan hooflanddros Jaco Lambrechts, oorhandig het.

In die memorandum versoek hulle die hof om nie borgtog toe te staan nie aan die vermeende moordenaar van die bejaarde Klaas Campher (64) wat op 23 Januarie 2020 wreed in die veld vermoor is terwyl hy oudergewoonte besig was om hout te soek.

Hy is met ’n klip doodgekap en die verdagte, Justin Baartman (22), is kort daarna op die toneel in hegtenis geneem.

Volgens kapt Joey Strydom, stasiebevelvoerder van Dysselsdorp, het mense wat hul bokke veld toe geneem het die polisie en ambulans gebel toe hulle die aanval gesien het.

Campher het op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Leon Campher het tydens die oorhandiging van die memorandum gesê dat dwelms ’n groot maatskaplike probleem in die gemeenskap van Dysselsdorp is.

Hy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om saam te staan en die polisie te help in hul stryd om misdaad en dwelmsmokkelary hok te slaan.

Volgens hom is dit as gevolg van dwelmisbruik dat mense vermoor, ver­krag en aangerand word.

Die gemeenskap het in die versoek­skrif – wat deur 811 inwoners van Dysselsdorp onderteken is – ’n versoek gerig dat borgtog nie aan Baartman toegestaan moet word nie.

• Baartman het later die oggend in ’n stampvol hofsaal aangedui dat hy sy borg­aansoek laat vaar.

Landdros Johan Steynberg het die saak vir ’n streekhofdatum tot 9 Maart 2020 uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)