Pragmotors uit toeka se dae te sien by skou

LIEFHEBBERS van ou motors kan ’n paar verrassings te wagte wees by vanjaar se George Ou Motorskou wat eerskomende naweek (8 en 9 Februarie) op die dorp aangebied word.

Die voorsitter van die George Ou Motorskou, Johan Rademan, sê behalwe vir die spesiale bakkie-uitstalling is daar ook vanjaar ’n uitstalling deur die Ferrari-club, wat 17 van dié supermotors skou toe bring.

Die Valiant-klub sal die skou gebruik om sy 60-jarige bestaan te vier, daar’s ’n spesiale “muscle cars’-uitstalling en Trader Auctions bied ’n veiling aan.

Die skou, wat vanjaar vir die 24ste keer op die terrein van die PW Botha-kollege aangebied word, is die perfekte gesinsuitstappie met hope vermaak vir oud en jonk.

Hoewel die terrein gaan wemel van klassieke motors wat dateer uit die dae van blinkgepoetste skoene en nog blinker vuurwaens so reg uit die James Bond- en Fast and Furious-flieks, is dit vanjaar bakkies wat die hoof-uitstallingsarea gekry het.

Ons praat van bakkies in elke denkbare vorm en kleur en stokoues ook, soos die Task Force 1957 GMC 100-halftonner en die Ford Ranchero. Volgens Kobus Harris word daar vertel dat die bakkie sy oorsprong in Australië gehad het toe ‘’n boervrou van Gippsland, Victoria in 1932 ‘’n brief aan Ford Australië geskryf het en gevra het vir ’n voertuig waarin ’n mens kerk toe kan gaan op ’n Sondag en ook mark toe kan gaan met hul varke op Maandae.

Volgens Creative Rides was die Task Force GMC die eerste bakkie met ’n V8-enjin. Die Ford Ranchero is van 1957 tot 1979 vervaardig en die ontwerp is geskoei op ’n tweedeur-stasiewa.

Van die ander motors wat by die skou gesien kan word sluit in die oudste kar in Suid-Afrika (’n 1901 Benz Ideal), ’n 1928 Dodge Brother, ’n 1946 MG TC en ’n 1965 Shelby Cobra, wat ’n top-spoed van 249 km per uur kon haal.

Die Benz Ideal is met liefde deur die Crankhandle-klub gerestoureer en is nog in ’n rybare toestand. Dit kan tot 32 km per uur haal, mits jy weet hoe om dié ryding te bestuur.

Ook te sien is die meer as 50 Mercedes Benze uit die persoonlike versameling van die radioloog dr Waldo Scribante, tans die voorsitter van die Mercedes Benz-klub van Suid-Afrika.

Kaartjies vir die skou is beskikbaar by Computicket.