HOEWEL helderkleurige motors die afgelope tyd meer gereeld op Suid-Afrikaanse paaie gesien kan word, bly wit die voorkeurkeuse vir plaaslike motoriste wanneer hulle ’n nuwe motor koop.
Volgens die aanlyn-handelaar AutoTrader, word meer wit motors in Suid-Afrika verkoop as die somtotaal van verkope van motors in die tweede, derde, vierde, vyfde én sesde gewildste kleur. Dit is gebaseer op 2019 se verkope op hul web-werf.
George Mienie, hoof van AutoTrader, sê dit kan toegeskryf word aan die goeie herverkoopwaarde van wit motors asook die feit dat dit goedkoper is om wit motors se bakwerk reg te maak.
“Wit is natuurlik ook ’n beter keuse in die hitte,” sê hy.
Die tweede gewildste kleur is silwer, gevolg deur grys, blou en rooi. “Dit verskil van wêreldtendense waar swart die tweede gewildste kleur in 2019 was, gevolg deur grys, silwer en blou,” sê Minnie.
Swart is die sesde gewildste motorkleur in Suid-Afrika. Die res van die kleure op die toptienlys in SA is goud, oranje, beige en bruin. Groen is gewild in Europa, maar nie hier nie.
Wat herverkoopwaarde en inruilwaarde betref, blyk dit steeds wys te wees om eerder by die “veiliger” kleure soos wit en silwer te bly. Volgens die web-werf www.cars.co.za sal mode-kleure kom en gaan, maar neutrale kleure altyd gewild bly.