Die Tuinroete Distriksmunisipaliteit (TDM) is bewus van die grondeise van twee van sy eiendomme in Dysselsdorp (Erf 2 en 975) en bly toegewyd om ’n regverdige en menslike proses te volg om die situasie te beredder. Die TDM onderneem om verskeie belanghebbendes te betrek, om sodoende ’n regverdige oplossing vir die situasie te vind.
Agtergrond: In 2021 het die Gona-Hesse! Khwe Koninklike Koninkryk, ’n nie-winsgewende entiteit, die TDM genader met ’n voorstel om grond binne die distrik se jurisdiksie te huur. Hulle aanvanklike belangstelling was in Kleinkrantz, ’n klein gemeenskap tussen Wildernis en Sedgefield, maar is egter ingelig dat Kleinkrantz nie beskikbaar is nie.
Alternatiewe grond wat wel beskikbaar was vir huur, Erf 2 in Dysselsdorp was aanbeveel. Erf 2 is ongeveer 100 km vanaf Kleinkrantz.
Gona-Hesse! Khwe besluit om Erf 2, in Dysselsdorp te huur, spesifiek die gebied wat plaaslik bekendstaan as ‘Bloupunt’. Hulle het ’n deposito betaal, maar het versuim om hul maandelikse huurverpligtinge na te kom soos bepaal in die huurooreenkoms.
Teen 30 September 2022 was hul agterstallige huur sowat R60 000. Ten spyte van herhaalde versoeke om betaling, het die Gona-Hesse! Khwe versuim om hul skuld te vereffen, en wat daartoe gelei het dat die TDM maatreëls geïmplementeer het in ooreenstemming met sy Kre- dietbeheerbeleid om sodoende die verskuldigde (uitstaande) bedrae terug te eis.
Op 2 Februarie 2024 het die TDM ’n kennisgewing ingedien ingevolge artikel 4(2) van die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsettings en Onwettige Besetting van Grond, No 19 van 1998 (die PIE Wet), teen die Gona-Hesse! Khwe.
Die groep het, ten spyte van die nalating van hul huurverpligtinge, omstrede onwettige titelaktes uitgereik, waardeur hulle valse eienaarskap oor die grond beweer het, op grond van hul beweerde koninklike status.
Hierdie optrede was teenstrydig met die amptelike aktes se rekords. Gevolglik het die TDM geen ander opsie gehad as om regstappe te neem om sodoende sy eiendomsregte te beskerm. Die een uitsettingskennisgewing het betrekking op Erf 2.
Die ander uitsetting is vir die onwettige besetting van Erf 975, maar die TDM Raad het intussen besluit om hierdie uitsettingskennisgewing terug te trek.
Die kontraktuele oortreding het spesifiek betrekking op Erf 2 en word geassosieer met die Gona-Hesse! Khwe groep. Die individue wie protes aanteken, is inwoners van Erf 975 en word mislei deur die Gona-Hesse!
Khwe, wat nie hul kontraktuele verpligtinge met betrekking tot Erf 2 nagekom het nie.
’n Administratiewe en politieke delegasie het Woensdag met die gemeenskaps se verteenwoordigers gepraat om ’n moontlike oplossing vir die sitsuasie te vind.
Met die oog op die toekoms is die Tuinroete Distriksmunisipaliteit (TDM) Raad en die administrasie besig om te beraadslag oor die situasie met betrekking tot Erf 975 met die Oudtshoorn Munisipaliteit, met die doel om ’n harmonieuse oplossing te bereik.
Dysselsdorp grondeise deur Gona-Hesse! Khwe
Inwoners van Bloupunt het die pad na Dysselsdorp Maandag met klippe en takke versper. Foto Skermgreep van video