
Dit blyk dat daar lig aan die einde van die tonnel is, met die beveiliging en oprig van ’n nuwe heining by die Bridgton Toeristeoord op Oudtshoorn.
Die oord is al ’n geruime tyd ’n besprekingspunt vir inwoners, veral op die sosiale platform Facebook, waar persone gereeld foto’s plaas oor vandalisme wat daar plaasvind en gevra word oor die toekoms van die eens mooi oord.
’n Onlangse plasing het meer as 800 reaksies uitgelok, en 400 kommentare. Verskeie kommentare het gevra waarom die persele nie uitverhuur kan word om so die veiligheid daarvan te verseker.
Die Hoorn het in 2022 berig dat meer as 20 besetters vanaf die perseel verwyder moes word, wat onwettig daar gebly het.
Die munisipaliteit het hom na die Hooggeregshof gewend en aansoek gedoen om ’n hofbevel teen die besetting en beskadiging van alle munisipale eiendom.
In April 2023 verskyn nog’n plasing op Facebook met ’n foto by van ’n man wat helder oordag bakstene en ander items met sy kruiwa van die oord af wegdra.
Dit wat van die toeristeoord oor is, is erg vervalle en beskadig. Die ruite is gebreek, en geboue wat daar staan is net doppe. Die afgelope tyd is selfs die dakke beskadig met booswigte wat groot klippe deur die dakteëls gooi.
Inwoners wat daar naby bly, kla ook van afskuwelike dinge wat in die nag daar gebeur.
Die Hoorn het met Oudtshoorn se uitvoerende Burgemeester, Chris Macpherson gaan gesels om te hoor wat die munisipaliteit beplan om die verdere verval en agteruitgang van die Bridgton Toeristeoord te keer.
Macpherson het gesê dat dit belangrik is om in ag te neem dat die kwessie van die oord hand aan hand gaan met ander ontwikkelings soos die nuwe inkopiesentrum in Rademeyerstraat.
Ontwikkelaars moet eers deur ’n proses gaan om aansoek te doen, vir enige nuwe ontwikkelings.
“Daar is tans ’n proses aan die gang waar beleggers voorleggings instuur met voorstelle om die oord oor te neem en te bestuur. Dit is egter baie belangrik om te weet dat die munisipaliteit nie die eiendom gaan verkoop nie, maar dat beleggers dit slegs vir ’n bepaalde termyn sal huur en dat enige verbeterings op hul eie onkostes gemaak moet word”, het Macpherson aan Die Hoorn gesê.
Macpherson het verder gesê dat die munisipaliteit nie op die oomblik oor fondse beskik om die oord te herstel nie, maar dat hulle dit wel sal beveilig deur ’n nuwe heining aan te bring.
Met Die Hoorn se besoek aan die oord op Dinsdag, 27 Februarie, het die munisipaliteit klaar ’n groot deel van die heining herstel en ook lemmetjiedraad aangebring.
Werk aan die laaste gedeelte van die heining was besig om te geskiet.
Daar is ook ’n sekuriteitsmaatskappy aangestel wat wagte verskaf om die perseel 24 uur op te pas en te patrolleer. (Deur Lindi Brill)