DAAR gaan beslis 522 huise op Dysselsdorp gebou word, sê die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson.
Macpherson het Maandagmiddag by ’n perskonferensie op Oudtshoorn gesê die bou van huise is nie meer ’n munisipale funksie nie, maar val nou onder die nasionale en provinsiale regering en die distriksmunisipaliteit, maar dat talle besonderhede daaroor nog nie bekend is nie.
“Ons hoop dat die provinsiale minister ons binnekort sal besoek en inlig presies wat die nuwe stelsel behels.”
Volgens Macpherson sal die waglys wat bepaal wie huise gaan kry voortaan op provinsiale en nasionale vlak bestuur word, onder meer om te verseker iemand se naam beland nie op twee waglyste nie.
Die nuwe benadering van die nasionale en provinsiale regering is dat daar uit die name op waglyste vir huise voorkeur gegee sal word aan senior burgers, enkelouer-huishoudings, mense met gestremdhede, militêre veterane en mense wat die langste op ’n waglys is.
Hy sê daar is egter nog baie vrae oor die nuwe behuisingstelsel waarop die munisipaliteit ’n antwoord sal wil kry – onder meer wat die toekoms is van die mense wat in Hopeville by die Oudtshoorn Begraafplaas woon. (Deur Liesel le Roux)