
By Dinsdag se perskonferensie was van links Shehaam Sims (waarnemende bestuurder menslike nedersettings), raadslid Johan Fourie (voorsitter van die tegniese komitee), burgemeester Colan Sylvester en Chris Koch (waarnemende direkteur tegniese dienste). Dit was die tweede keer die afgelope weke wat die munisipaliteit ‘n uitgebreide perskonferensie gehou het om die gemeenskap in te lig. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit beskik nou die eerste keer oor ’n behuisingsplan vir die volgende vyf jaar, sê Johan Fourie, DA-raadslid en voorsitter van die raad se tegniese komitee.
Die meeste van die projekte op die behuisingsplan is egter nog onderhewig aan raadsgoedkeuring en ’n openbare deelnameproses.
Die munisipaliteit se waarnemende bestuurder menslike nedersettings, Shehaam Sims, het Dinsdag tydens ‘n perskonferensie oor onder meer behuising gesê die munisipaliteit het groot vordering gemaak sedert Januarie 2016 toe daar geen bou-aktiwiteit was nie omdat projekte gestaak is nadat die diensverskaffer nie betaal en planne nie goedgekeur is nie. Dié aangeleenthede is opgelos en die afdeling kon 97% van sy R32 miljoen wat beskikbaar gestel is vir bouprojekte einde Februarie spandeer.
Suksesvolle aansoeke is ook reeds ingedien vir noodbehuising van R1 403 miljoen vir 2016/2017, 2017/ 2018 en 2018/2019.
50 JAAR OP DIE WAGLYS
Volgens Sims se voorlegging is daar tans sowat 13 000 mense op die waglys met sowat 8 400 van dié mense wat in agterplase woon, sowat 4 200 in oorvol omstandighede, en sowat 1 600 in informele nedersettings. Teen die gemiddeld van 300 huise wat tans gebou word, sal dit 48 jaar duur om huise vir almal op die waglys te verskaf.
Die persoon wat die langste vir ’n huis wag, wag al sedert 1967, dus 50 jaar.
Die eerste 1 000 huise wat gebou sal word, sal gaan na mense wat tussen 1967 en 1993 op die waglys geplaas is.
Volgens Sims het die munisipaliteit begin aandag skenk aan behuisingsprogramme wat nie net soos voorheen voorsiening maak vir mense wat minder as R3 500 per maand verdien nie, maar ook van R3 501 tot R15 000 per maand. Verskeie aansoeke vir befondsing is reeds by die provinsiale regering ingedien met van die projekte wat al goedgekeur is.
HIER WIL MUNISIPALITEIT HUISE BOU
Behuising op die vyfjaarplan sluit in die opgradering van informele nedersettings, naamlik Rosevalley (966 eenhede, waarvan 299 huise al oorhandig is en 335 huise onder konstruksie is), Dysselsdorp (200), De Rust (200) en die gebied by die Kanaal, Black Joint Tavern en GG Kamp (600 eenhede); 146 nuwe eenhede in Bridgton en Bongolethu (waarvan 114 eenhede gebou is en 32 eenhede nog gebou moet word) en 24 nuwe huise in Bongolethu waar die modderhuise is; 550 huureenhede in Bridgton (by Aurial Kollege en Môrester); nuwe eenhede in Spieskamp (48), die opgradering van die Kliplokasie (50), Volmoed/De Hoop (600), in Wesbank vir die SANW (350), Dysselsdorp (568), De Rust (289), Spekkop (880), oos van die lughawe (3 250), wes van die lughawe (6 254), suid van die skouterrein (1 520), Oewerzicht langs die Honde-eenheid (768), Zeelandsnek (763) en die gholfbaan (2 420) asook herstelwerk aan 1 660 huise in Bongolethu en Smartie Town.
Die voorgestelde projekte in die omgewing van die lughawe, die skouterrein, Oewersicht, Zeelandsnek en die gholfbaan bestaan uit ’n kombinasie van huise vir die inkomstegroep wat R3 500 per maand of minder verdien, die inkomstegroep wat R3 501 tot R15 000 per maand verdien asook huureenhede en privaatontwikkeling wat ook baat sal vind.