Beste museum in Wes-Kaap!

Lydia Barrella, kurator van die Fransie Pienaar-museum, met die toekenning as topmuseum in die Wes-Kaap. Agter Lydia is 'n skildery van die museumstigter, Fransie Pienaar.  Foto: Marlene Malan

Lydia Barrella, kurator van die Fransie Pienaar-museum, met die toekenning as topmuseum in die Wes-Kaap. Agter Lydia is ‘n skildery van die museumstigter, Fransie Pienaar. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
PRINS ALBERT se Fransie Pienaar-museum is pas aangewys as die Wes-Kaap se topmuseum.
Die provinsiale minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, en direkteur: museums, erfenis en geografiese name, Mxolisi Dlamuka, het dié toekenning verlede Saterdagaand tydens ’n glansfunksie by die Lord Charles-hotel in Somerset-Wes aan die kurator, Lydia Barrella, oorhandig.

Wat dié prestasie besonders maak, is dat die museum van die Universiteit van Stellenbosch die ander benoemde in die kategorie “Beste museum in die Wes-Kaap” was.

Die Fransie Pienaar is vereer vir sy omvattende en geordende versamelings wat die ontstaan en ont­wikkeling van Prins Albert en sy mense ver­teen­woordig, met die fokus op geskiedenis, op­voedkunde, mediese ontwikkeling, sport, ge­- dwon­ge verskuiwings, geboue, handvaardighede, die Swartbergpas, die plaaslike koerant Prince Albert Vriend, kuns, asook omgewing en plantegroei. Die museum spog met ’n uitmuntende boekeversameling oor die omgewing wat te koop is, ’n omvattende argief met foto’s en dokumente wat daagliks bygehou word, ontdekkings uit die Steentydperk, tot ’n optekening en uitbeelding van boustyle van plaaslike geboue.

Volgens Barrella “is die museum die enigste plek in die dorp waar die geskiedenis van die gemeenskap van Prins Albert ontdek kan word in artikels, foto’s en dokumente. Dis ’n fokuspunt vir toeriste en dien as ’n spilpunt vir streekskennis wat tot die beskikking is van inwoners en besoekers. Ons fokus op kultuur én natuur.”

Dit is ook ’n gemeenskapsmuseum waar interns onderrig en ondersteun word, met gereelde besoe­ke deur skole. “Ons hou wag oor die kosbare bewaringsbates van die Groter Prins Albert Muni­- sipaliteit.”
As jy meer wil weet oor die omgewing se argeo­logie, plekke van geologiese belang, rotskuns, historiese geboue en boerderytegnologie, is die mu­- seum ’n besoek werd. Dis uit dié uiteenlopende belangstellings dat die Prins Albert Kultuurstigting ontstaan het, wat baie nou verbonde is aan die museum, vertel Barrella.

Maar bo alles moet die stigter, Fransie Pienaar (geb 1898), vereer word vir haar deursettingsvermoë om haar eie versamelings en dié van ander mense onder een dak te vestig, eers by Kerkstraat 16 en nou by Kerkstraat 42.

Helena Marincowitz was die Prins Alberter wat gekeer het dat dié gebou afgebreek word, want – het sy altyd gesê – die dorp sou daarsonder “soos ’n glimlag sonder voortande lyk”. In 1985 is Freda Haak aangestel as tydelike kurator en in 1995 Barrella as eerste permanente kurator.

Barrella sê die toekenning span die kroon op harde, toegewyde werk van haar voorgangers, asook die steun van die Vriende van die Museum en al die inwoners van Prins Albert.

Vir meer inligting of om bydraes te lewer, stuur ’n e-pos aan haar by fransiepmuseum@lantic.net of ska-kel 023 541 1172.

Die museum is weeksdae gedu-rende kantoorure oop, asook Sater-dagoggende en een uur op ’n Son- dagoggend.