Die gewilde Dryland Traverse, een van Suid-Afrika se uniekste en mooiste “Trail Runs”, het Donderdag (30 Oktober) afge-skop met die eerste 9,5 km wat deur die Kango Grotte kronkel. Vrydag het deelnemers sowat 25 km afgelê, Saterdag 24,1 km en Sondag 9,9 km.
Sowat 300 deelnemers het oor vier dae ’n totaal van amper 70 km voltooi met roetes wat oor en om die Swartberge, die Raubenheimerdam, asook De Hoek strek.
Die Hoorn het oor die naweek gaan inloer om self die opwin-ding, kameraderie en soms pyn te beleef tussen deelnemers.
Uitsonderlike moeite en aandag aan detail word haarfyn beplan sodat deelnemers ’n besonderse ervaring op die roetes, asook by die eindpunt en “race villiage”, ervaar.
Die tema van vanjaar se partytjie was Kersfees en word elke jaar tydens die Traverse die Saterdagaand aangebied.
Dit is met groot geesdrif bygewoon, en daar word binne en buite die boks gedink wanneer dit by kostuums kom. Vanjaar was dit behoorlik Kersfees in November gewees.
Die Hoorn het met ’n paar Oudtshoorniete gesels wat vanjaar deelgeneem het, van ge-soute deelnemers soos Liesl Jonker wat vanjaar haar 10de Traverse suksesvol voltooi het, tot beginners wat die eerste keer hierdie uitdagende geleentheid aangedurf het.
Hier onder is hulle ervarings asook wenke vir mense wat die Traverse wil aanpak.

Hein en Liesl Jonker:
Dit was vir my ’n groot voorreg om my tiende Traverse hierdie jaar te kon doen. Dit was my man Hein se negende een. Alhoewel ons dit gestap het, was dit steeds wonderlik gewees. Ek het Saterdag verjaar, en vanjaar was vir my ekstra spesiaal. Twee van my vier kinders, Megan en Luke, saam met hul gades, en ’n klomp van my vriende het saam met my aan die Traverse kom deelneem. Dit was nou ’n fees gewees. Saterdag se temapartytjie was ook ’n hoogtepunt. Rooi, wit, groen, liggies en gesiggies was aan die orde van die aand.
Almal dans en baljaar – seer bene en al. Hierdie geleentheid sal ek vir almal aanbeveel, Dryland se span is wonderlike mense wat baie moeite doen, altyd vriendelik en maak die geleentheid lekker spesiaal vir almal.
Alhoewel die roetes soms uitdagend is, is dit asemrowend. Deelnemers moet darem bietjie oefen voor die tyd en verseker dat draftekkies goed ingeloop en ingeoefen is. Daar ontwikkel maar altyd ’n blaas of twee, en pyne wat nie voorheen daar was nie.
Hierdie jaar was daar baie meer jonger deelnemers gewees, waaroor ek baie bly is, want ons oues moet seker begin dink aan aftree. Dan breek Februarie aan met sy Black Friday-winskopie, en almal word weer opgewonde om in te skryf. Ons sal maar sien of ons weer verlei kan word om volgende jaar deel te neem. Maar vir almal daar buite is dit ’n moet doen.

Hannes Stegman, algeheel 3de in die Adventure trail run manskategorie: Die Dryland Traverse was ‘n wonderlike ervaring vir my, veral om dit saam met die Klein Karoo Toyota-span te doen. Ek het geleer dat jou liggaam tot baie meer in staat is as wat jy kan dink.
Met die regte mentaliteit, dissipline en ’n paar goeie pelle om mee saam te oefen, kan jy fiks word en dit geniet. Jy voel goed, dink skerper en slaap beter. Ek hou van afdraandes so het laat waai en soms gewens daar is weer ’n opdraand dat ek net ’n slag weer kon stap.
Ten spyte van die seer spiere is dit die lekker sportmangees onder al die deelnemers wat dit so besonders gemaak het. My raad is kry die regte tekkies, smeer jou tone met Vaseline en sorg dat jy jou waterrugsakkie vol ys en water opvul by elke waterpunt.

Sarie de Wet: Die Traverse is vir seker ’n heerlike sosiale geleentheid op die Oudtshoorniete se kalender. Die meeste mense onderskat hoe moeilik dit is, en sê teen Saterdagmiddag “nooit weer nie|”. Dan dans hulle al hulle stywe spiere los Saterdagaand.
’n Dag na die Traverse het almal “FOMO” (fear of missing out) en begin klaar uitkyk vir die Black Friday-winskopie. Daar word altyd nuwe vriendskapsbande gesmee op die roetes, en dan is dit eers lekker as jy dit die volgende jaar weer doen en mekaar weer raakloop.
Dit was my vierde keer, en dit is lekker om te hoor dat die nuwelinge wat dit die jaar gedoen het, klaar beplan om volgende jaar weer te gaan met voornemens om beslis beter voorbereid te wees.
Dit bly ’n goed georganiseerde byeenkoms, vanaf die organiseerders, die mediese personeel en roete aanwysers, die vriendelike manne by die veldstorte wat nie omgee om ’n tweede emmer warm water vir jou te bring nie, en Rene en Deon se lekker kos veroorsaak dat ons almal ’n kilogram of twee swaarder huis toe gaan.
Ilse Jordan: Hierdie jaar was my derde Dryland Traverse, ons het dit ‘n “girls weekend” genoem, aangesien ons dit nie hierdie jaar saam met ons mans gedoen het nie.
Weereens was dit ‘n fantastiese naweek van saam draf, lag, dans en aantrek vir ’n temapartytjie. Ons het hopeloos te veel geëet, saam gekuier, maar ook saam gely. Hierdie is ‘n besliste “bucket list”-geleentheid wat gedoen moet word, maar jy moet stapfiks wees as jy nie kan draf nie, en beslis nie die roetes onderskat saam met die warm Oudtshoorn-son nie. Ek sou hierdie definitief nie sonder my spanmaat Sarie de Wet se motivering kon doen nie. Dankie aan Dryland vir ‘n uitstekende gereëlde geleentheid.

Constant en Lizel de Waal: Dryland Traverse is soos geboorte gee. Jy vergeet gou hoe swaar jy gekry het en skryf weer in. Dag 1 was ’n reuse uitdaging, maar waaroor sou ons kon kla as dit maklik was. Almal is styf en trappe klim raak ’n kuns. Die Traverse het ongelooflike gees, ’n fantastiese span en die lekkerste atmosfeer. Ons sal volgende jaar beslis terug wees.

Elsabe van der Merwe en Louis de Wet: Dit was moeilik, maar die kameraderie en gees by die geleentheid is ongelooflik en definitief iets waarvoor ons graag teruggaan. Dit was my tweede een en Louis se eerste een.
Louis vertel vir sy eerste keer was dit ’n ongelooflike ervaring veral om deur die Kango Grotte te loop. Jy moet definitief die regte skoene en kouse hê, anders gaan jy moeilikheid kry. Louis kon ongelukkig nie die laaste twee dae deelneem nie as gevolg van erge blase, maar nou weet hy wat vir hom die volgende keer voorlê.

Leslie Stuart, wenner van die beste Kersfees cracker: By verre die moeilikste ding wat ek nog in my lewe gedoen het, maar ook die lekkerste.
Vir agt jaar al op my “bucket list”, en dit gaan op my “to do list” bly tot my bene onder my ingee. Ek sal dit vir enige persoon voorstel om te doen, maar werk daarvoor, sit die nodige tyd en oefening in.
Hezali Nel: Wat ’n voorreg om ons mooi Swartberge en kontrei op hierdie manier te beleef. Oefen jou bulte. Die Drylandspan en die drawwers wat kom deelneem is van die lekkerste mense wat jy ooit sal ontmoet.

David McKinnon: Die Travese is vir my altyd ’n lekker hardloopafsluiting aan die einde van die jaar, saam met vriende van Oudtshoorn en ook buite die dorp. Dis moeilik maar lekker, veral die Vrydag, maak nie saak watter roete ons doen nie.
As hy eers verby is dan begin die naweek in alle erns, asook die partytjie op Saterdag moet nie gemis word nie. My raad is om Donderdagaand na die grotte vroeg te eet en te gaan slaap, want jy gaan die krag nodig hê vir Vrydag. Verder moet mense dit net geniet, soveel as moontlik saam met jou pelle kuier en goeie herinneringe bou.

Anel van Wyk, derde in die solo-vroueafdeling: Ek het 2021 laas die Traverse aangepak, maar om na so lank terug te wees was ongelooflik. In Januarie 2024 het ek my tibia gebreek, en so my liefde vir die natuur ontdek. George se berge was my “go-to” gewees.
Die Traverse is ’n ongelooflike, goed georganiseerde byeenkoms en sommer net hier op Oudtshoorn se stoep. Om in die berge, velde en lande te kan rondhardloop het my weer laat besef hoe mooi die Klein Karoo is. Dis dalk warm, maar dis ’n ander tipe natuurskoon.
My gunsteling gedeelte was Vrydag waar ons die berg moes uitklim. Af het my effens gebreek. Ek is mal oor uitdagings en die uitsig is ongelooflik mooi en word jy so beloon. Om op die podium te kon staan was soos ’n vroeë Kersgeskenk, omdat ek nie meer kompeterend hardloop nie.
Dryland Traverse se atmosfeer en mense is elke keer wonderlik en ’n lekker groep. Ek moet ook net noem dat die kos altyd ’n wenner is na ’n welverdiende harde dag se hardloop. (ANGELIQUE ERASMUS)